Openbaring hoofstuk 7 [video]
top of page

Openbaring hoofstuk 7 [video]


DIE MESSIAS SE TRIOMF OP AARDE EN SY MARTELARE SE GETROUHEID

Openbaring wil nie gelowiges isoleer van die gevare, teenstand en stryd wat die eindtyd kenmerk nie. Al is God se hemelse troonsaal die nadoodse bestemming van alle volgelinge van die Lam, en al wag die nuwe hemel en aarde by sy tweede koms op elkeen wat sy Naam en sy Vader se Naam op hul voorkoppe dra (14:1), gaan dit ook oor die aanbreek van God se koninkryk hier op aarde. Dit hoor ons as die sewende trompet blaas in 11:15. God het nie sy wêreld prysgegee aan die bose magte en probeer nou naarstiglik om sy mense hier weg te kry nie. Die geveg om die harte en lewens van mense word juis op aarde voltrek. Die aarde is God s’n, met alles en almal daarop. Dit is waarvoor die Messias gesterf het – om ʼn internasionale nuwe volk vir Homself te versamel en om die skepping nuut te maak. Daarom sal die Lam die nasies verslaan wat teen Hom opstaan met die swaard wat uit sy mond kom (1:16; 2:12, 16; 19:15, 21; vgl. ook Jes. 11:4; 49:2). Ook sal Hy die konings van die aarde (as ʼn sleutelterm in Openbaring om die politieke magte wat teen God opstaan, mee te beskryf) se mag finaal breek (6:15; 16:14; 17:2, 18; 18:3, 9; 19:19; 21:23). Die taal van triomf en oorwinning is dus aan die orde van die dag wanneer die Lam op die toneel is (3:21; 5:5; 17:14).

Dit wemel van oorwinningstaal in die sewe briewe in Openbaring 2-3 (vgl. 2:7; 11, 17, 28; 3:5, 12, 21). Hoe word oorwinningstaal met betrekking tot die navolgers van die Lam gebruik in 12:11; 15:2 en 21:7?

Bauckham (The Theology of the Book of Revelation. Cambridge: Cambridge University Press. 1999) skryf tereg dat die Lam se oorwinning in Openbaring deur drie fases verloop, naamlik sy dood en opstanding (3:21; 5:5); die triomf van sy aardse volgelinge wat as martelare sterf in die eindtyd (15:2), en die finale oorwinning van die Lam by sy tweede koms (17:14). Christus se volgelinge word gereeld martelare genoem. Hierdie term dui nie eerstens op die feit dat hulle doodgemaak word vir hulle geloof nie, maar op hulle getrouheid aan die woord van God (6:9; 12:11; 20:4). Tog is daar geen twyfel dat hulle getuienis aangaande Jesus (12:17; 17:6; 19:10) asook hulle gehoorsaamheid tot teenstand en selfs die dood kan lei nie (2:13; 11:7; 12:17). Daar bestaan geen ontsnappingsroete uit die aardse stryd, of ʼn vinnige wegraping vir Christus se mense iewers gedurende die eindtyd nie. Hulle word juis verseël deur ʼn engel om te keer dat hulle regdeur hierdie tyd van swaarkry uit God se reddende hand val (7:1-3), maar hulle moet dié verdrukking deurstaan ten einde op die laaste dag voor Hom staande te bly (7:14). Martelare is nie ʼn spesiale kategorie van gelowiges in Openbaring nie, maar ʼn sinoniem vir alle Christene, soos wat dit blyk uit 7:14 (wat verduidelik dat almal wat uit die groot verdrukking kom, hulle klere in die bloedrooi bloed van die Lam gewas het). Net soos hulle Heer wat sy eie lewe afgelê het (5:5-6), gee sy volgelinge ook hulle lewens prys. Juis deur die opoffering van hulle eie lewens oorwin hulle die draak (12:11).

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page