Spreuke: Op Wysheid se hakke

September 10, 2018

 

Spreuke is die resultaat van ‘n lang wysheidstradisie wat aan die koninklike hof sedert die tyd van Dawid en Salomo geleer is. Hierdie wysheid is veral aan jongmanne geleer wat in die koning se diens was, of wat ander belangrike posisies in die samelewing beklee het. Hierdie opleiding is waarskynlik begin deur wysgere in die tyd van Israel se eerste konings wat bekommerd was dat die jongmense van hulle dag sonder die nodige insig en wysheid grootword.

 

Spreuke se wysheid word geput uit allerhande oorde: die natuur, landbou, die regswese, die politiek, doodgewone menslike gedrag, en selfs ook uit bronne van buurvolke. Maar ware wysheid word altyd in verband gebring met eerbied vir die Here (1:7). Dit is die grootste les wat jonk en oud moet leer. Natuurlik moet almal wat op soek is na wysheid ook leer hoe om verstandig op te tree binne elke situasie. Kortom: die wysheidstradisies, soos wat ons dit in Spreuke raakloop, wil vir ons leer wat ons plek is voor God en tussen ander mense.

 

 

Wys of dwaas?

 

Spreuke ken eintlik net twee lewenspaaie, dié van wysheid en dié van dwaasheid. Soos twee vrouens langs ‘n besige straat verkoop “me. Wysheid” en “me. Dwaasheid” hulle ware aan alle verbygangers, aldus Spreuke 9. Dwaasheid se ware is baie aanloklik, maar dodelik gevaarlik. Dit vernietig die lewens van elkeen wat deur haar listigheid meegesleur word. Aan die ander kant bied wysheid ware lewe voor God.

 

Te midde van verskillende Hebreeuse woorde vir dwase in Spreuke, staan die term `evīl veral uit. Hulle is eiewys. Hulle verafsku wysheid (16:22; 29:9), want hulle is oorversekerd en arrogant (12:15). Op hulle lippe wemel woedende woorde, want rusiemaak is hulle kos (20:3; 27:3). Ook weet Spreuke van selfgesentreerde, opgeblase dwase (genaamd kesīl in Hebreeus). Onmiddellike genot is al wat vir hulle tel (10:23), saam met ‘n onbeheerbare tong wat hulle gedurig in die moeilikheid bring (18:6-7). Hulle is lief vir skinderpraatjies (10:18), leuens (15:14) en onkunde (15:7). Sulke dwase is onleerbaar (26:11), roekeloos (14:16) en gevaarlik, want spoggery (14:33) en ligsinnigheid (13:16) is hulle kos.

 

Die enigste geneesmiddel vir dwaasheid is om die Here se wysheid te bekom. Wysheid mond op verskillende maniere uit in ‘n deurdagte lewe voor God en tussen ander mense. Omdat wyses met integriteit praat, kan ander altyd op hulle woorde staatmaak (12:17). Wyses dink voordat hulle praat of antwoord (15:28). In moeilike situasies laat hulle sagte woorde woede bedaar (15:1), daarom is hulle woorde gedurig propvol genesing (15:4).

 

Verskillende skrywers, groot leeflesse

 

Spreuke is nie net deur ‘n enkele persoon geskryf nie. Dit bestaan uit verskillende versamelings van wysheidslesse. Die eerste nege hoofstukke van Spreuke wys byvoorbeeld vir ons hoe wysheid en dwaasheid in aksie lyk, terwyl Spreuke 10:1-22:16 weer belangrike lewenslesse in losstaande, kort uitsprake met ons deel. ‘n Derde versameling van wysheidsmateriaal kom voor in Spreuke 22:17-24:34. Hierdie algemene wysheidsuitsprake maak veral gebruik van beelde uit die natuur en die regspraak. ‘n Vierde deel van Spreuke, hoofstuk 25-29, word in verband gebring met koning Hiskia van Juda wat Salomo se wyshede neergepen het. ‘n Laaste versameling van wysheidsmateriaal kom voor in Spreuke 30-31 onder die naam van Agur. Dit is hier, heel aan die einde van die Spreukeboek, dat hy ook die wonderlike eienskappe van die deugsame vrou besing (31:10-31). Wysheid is hoegenaamd nie net ‘n ‘manlike’ aangeleentheid nie (alhoewel mans dit dalk die heel nodigste het!). Ook vroue wat op God se pad stap, beoefen die kuns van wysheid. 

 

Leef wys

 

Ons almal is ‘n lewenslange studente in Spreuke se skool v an wysheid. Ons gradueer nooit hieruit nie. Nie een van ons het ooit alle wysheid in pag nie. Elke dag moet ons van voor af beheer vat oor ons tong en leer om ons woorde te tel (13:3). Elke dag moet ons opnuut kies om respek vir ons ouers en ander mense te hê (10:1); om versoeking te systap (5:15-19); om te dink voor ons iets sê of doen (26:4-5); om nie ‘n slaaf van geld te wees nie (22:1); om nie lui te wees nie (10:1), en om ‘n oop hand vir mense in nood te hê (21:13). Wysheid maak dat ons deurdag leef tot eer van die Heer en tot voordeel van ander.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

January 24, 2020

January 21, 2020

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: