top of page
Writer's pictureHelena Smith

Maak tyd vir jouself


Die vorige Kwêla-aanbieder, Coenie de Villiers, het altyd die program afgesluit met die woorde: Maak 'n verskil. Sy opvolger, Hannes van Wyk groet met die woorde: Maak 'n verskil, maar maak ook tyd vir jouself. Dit het eers vir my 'n bietjie "self indulgent" geklink, maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer maak dit vir my sin.

Aangesien Augustus Vrouemaand was, skryf ek vandag vir besige vroue. Vroue wat 'n klomp balle tegelykertyd in die lug hou. Vroue wat inderdaad 'n verskil maak, maar wat soms nie tyd maak vir hulleself nie.

Een van my jong kollegas vertel my nou die oggend dat sy die vorige nag niks geslaap het nie, want haar tweeling kry tande. Sy doen egter met ywer haar dagtaak. 'n Sielkundige het onlangs vir 'n vriendin gesê sy moet tyd maak vir haarself, al het sy 'n besige lewe as werkende ma. Iewers moet sy tyd maak om haar tenkie weer vol te maak.

As dit vir jou voel asof almal 'n stukkie van jou opeis en asof jy jouself langs die pad verloor, is dit tyd vir "me time". Vra jou ouers, ma of 'n vriendin om na jou kinders te kyk. Gaan kyk 'n fliek of gaan eet saam met 'n vriendin. Miskien het jy nodig om van jou huistake te delegeer. Verduidelik vir jou kinders, dat hoewel hulle vir jou baie belangrik is, jy soms tyd op jou eie nodig het.

Die belangrikste deel van tyd wat jy vir jouself opsy sit, is daardie tyd wat jy alleen met God spandeer. Ek is seker die Here hoor my haastige gebede op pad werk toe in my motor, maar weet dat dit nie die ideaal is nie. Kies 'n tydjie vir Bybel lees, bid of sommer net stil wees terwyl jy na geestelike musiek luister, Maak dit 'n daaglikse afspraak met jouself. Hierdie tyd maak jou tenk weer vol en gee jou krag vir jou besige lewe.

Onthou net, jy hoef nie 'n supervrou te wees nie. Vanweë 'n besige skedule kom jy dalk nie altyd by alles uit nie. Moenie te hard op jouself wees nie. In Spreuke 31 lees ons van 'n uitnemende, maar ook intimiderende vrou. (Ek dink sy is baie moeg aan die einde van haar dag!) Die vers wat egter vir my uitstaan en dit waarna ek dink ons moet streef, is Spreuke 31:30: “'n Vrou wat ontsag het vir die Here, verdien om geprys te word.”


bottom of page