Openbaring Hoofstuk 6 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 6 [video]


SEWE SEËLS, TROMPETTE EN WRAAKBAKKE KENMERK DIE EINDTYD

Openbaring se kronologiese en teologiese vertrekpunt is die aankoms van die Lam in die hemel. Die drie siklusse van Goddelike oordeel, by wyse van die oopmaak van sewe seëls; die blaas van sewe trompette, en die uitgooi van sewe wraakbakke op die aarde, begin telkens net ná Christus se hemelvaart. Anders gestel, elkeen van hierdie visioene in Openbaring begin by die begin van die eindtyd met Christus se aankoms in die hemel (vgl. 6:1). (Die vier ruiters wat in hoofstuk 6 op die aarde losgelaat word, is dus nie onafhanklike of vrystaande agente wat buite die Lam se jurisdiksie optree nie.) Later in hoofstuk 6:17, as die sesde seël oopgaan, bevind ons onsself aan die einde van die eindtyd, oftewel by die wederkoms, as goddeloses voor God se regterstoel verskyn. Openbaring 7 skuif die kalender egter dadelik weer terug tot aan die begin van die eindtyd as dit vertel hoe God sy aardse volk in hierdie tyd beskerm deur ʼn engel te stuur om hulle te merk sodat hulle staande sal bly. Teenoor Openbaring 6, wat die Lam se straf oor die sondige wêreld en die oordeel oor niegelowiges by die wederkoms beskryf, eindig hoofstuk 7 met ʼn beeldryke beskrywing van gelowiges se oorwinning op die dag van die Here (en daarna!). Terwyl niegelowiges op die oordeelsdag vir die berge vra om hulle te bedek teen die oë van Hom wat op die troon sit en teen die woede van die Lam (6:16), roep gelowiges uit: “Ons redding kom van ons God wat op die troon sit, en van die Lam” (7:10). Hiermee saam antwoord hoofstuk 7 die spannende vraag van 16:17: “wie sal staande bly op die dag van die Here?” as ons lees dat ʼn reuse getal gelowiges wel voor die troon en die Lam staan op die laaste dag (7:9).

Wanneer sewe trompette in 8:6 begin blaas, neem dit ons nogmaals deur die ganse eindtyd tot by die wederkoms. Hierdie trompette blaas as deel van God se straf om die ongelowige wêreld tot inkeer te roep (6:1-17; 8:6-9:21). Net hierna volg ʼn visioen wat die aardse kerk se posisie, taak en roeping beskryf in die tyd tussen die eerste en tweede koms van Christus (7:1-17; 10:1-11:19). Later, wanneer sewe wraakbakke in hoofstuk 16 op aarde uitgegiet word, oorspan dit ook die ganse eindtyd. Daar is wel ʼn styging of verskerping van God se oordeel oor die goddelose wêreld tussen die visioene van die sewe ruiters, trompette en wraakbakke. Die sewe seëls tref net ʼn kwart van die mensdom, maar ʼn derde van die aarde word getref as die trompette begin blaas, terwyl die ganse aarde in die spervuur is as die wraakbakke uitgegooi word. Hierdie visioene verduidelik dus uit verskeie hoeke en in stygende intensiteit dat die laaste dae ʼn tyd van God se (voorlopige) straf oor die goddelose wêreld is.

Opvallend in hierdie visioene, soos reeds gesê, is dat net nadat die sesde seël, trompet of wraakbak goddeloses en die skepping tref, daar telkens ʼn troosryke visioen volg oor die beskerming van die aardse kerk, soos die verseëling van die 144 000 gelowiges (7:1-8), of die opdrag aan Johannes om die boekie in die hand van die engel te eet in hoofstuk 10. Ook is daar na elke sesde gebeurtenis ʼn kort pouse voordat die sewende een volg. Ons lees byvoorbeeld van ʼn halfuur stilte in die hemel voordat die sewende seël oopgaan (8:1-5). ʼn Kort pouse word ook veronderstel voordat die sewende trompet blaas (11:14-15). Wanneer die sesde wraakbak uitgegiet word, is daar ʼn verwysing na die onverwagse terugkoms van Christus soos ʼn dief voordat die sewende een volg (16:12-16). Hierdie verposings veronderstel ʼn spanningsmoment om te sien of die voorafgaande straf van God die regte uitwerking gaan hê en of die goddeloses tot inkeer gaan kom. Te midde van die felheid van God se straf in die laaste dae meng Hy dit steeds met genade. Totdat die Here terugkeer, is daar altyd nog ʼn kans vir elke dorstige om hemelse water verniet te ontvang by die Here (22:17).

Wat is die funksie van God se oordeel in die eindtyd volgens 9:20-21 en 14:6-7? Is dit reg om af te lei dat God se straf sommiges se harte versag en ander s’n verhard volgens 11:9-11 en 15:4?

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page