top of page
  • deur Milanie Vosloo

Woord + Gees+ Jy = ’n Vol lewe


Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dit wat God sê tot diep binne-in jou … Hebreërs 4:12a

‘n Mens kan die Woord fantasties goed ken, selfs gedeeltes daaruit gememoriseer het en wonderlike redenasies daaroor voer. En dan steeds Woord-arm wees. Ja, om die Bybel te ken, is nie ’n waarborg dat ons dit sal leef nie. Eers wanneer jy die Woord saam met die Gees lees en met verwagting toelaat dat Hy direk met jóú praat … eers dan sal jy regtig hóór wat Hy vir jóú wil sê. En eers dán word Bybel-lees ’n avontuur wat jy geniet om te doen!.

Miskien het jy al agtergekom dat, wanneer jy die Woord met verwagting lees in dié wete dat die Gees daardeur met jou wil praat, jy God op wonderlike maniere hoor? Miskien het jy dan al agtergekom dat die Here dikwels deur die stilte van die geskrewe woord baie dieper tot jou spreek as wat ’n duisend ander stemme ooit kan.

Liewe mens, God wíl met jou praat. Ook deur sy Woord. Word van nou af tjoepstil voordat jy jou dagboek of Bybel lees. Fokus jou gedagtes op die Een wat ook deur die geskrewe woord vir jou so wil vertaal dat jy daardeur sal wil gaan lééf.

Ek wil ’n ryker Skrif-lees-patroon hê, Here. Lei my daarheen.


bottom of page