The Essential Guide to Fasting [resensie]
top of page

The Essential Guide to Fasting [resensie]


Meeste gelowiges wat kan bekostig om boeke te koop en te lees, het baie. Genoeg om te eet, klere om aan te trek, ‘n inkomste om van te leef. Hoekom sal ons daaraan dink om te vas? Ons gemaksugtige wêreld konsentreer eerder op hoe ons verder in ons (dikwels oor-bevredigde) behoeftes kan voorsien.

Om te vas het niks met ‘n gebrek aan kos of vloeistof te make nie, alhoewel dit woord soms so misbruik word. Vas het niks met dieet te make of om sekere kossoorte uit te skakel ter wille van jou gesondheid nie. Dit het eerder te make met ‘n geestelike honger en dors, na God. En vas is een van die maniere om jou af te sonder en nader aan Hom te kom. Om te rus van jou oorvloed aan materiële middele en jou oor te gee aan sy oorvloed. Dit is nie ‘n moet vir dissipels van Jesus nie; dit is bedoel vir gelowiges wat ernstig is in hulle verhouding met die Here. In baie se lewens breek ‘n seisoen aan waarin hulle verhouding verdiep, en vas is ‘n uitstekende hulpmiddel om dit te bemiddel.

Elmer Towns is ‘n gesoute gelowige en leermeester vir talle. In dié boek maak hy jou entoesiasties oor ‘n dissipline wat duidelik baie in sy lewe beteken het. Hy vertel jou hoekom jy dit nodig het om gereeld te vas, en hy vertel jou hoe om dit sinvol te doen.

Jy leer hier wat om te doen om jou voor te berei wanneer jy besluit om te vas, watter tipes vas daar bestaan en hoe om te besluit watter vas in jou spesifieke behoefte gaan voorsien, hoe om te leer om te bid terwyl jy vas (as vas jou geleer bid het, het vas sy doel in jou lewe bereik, want dan het jy by God uitgekom), hoe om God se teenwoordigheid eerstehands te beleef terwyl jy vas en hoe om die hemel te open wanneer jy vas.

Die boek is so geskryf dat dit nie bloot inligting oordra nie. Deur jou interaktief daarby te betrek, help dit jou om sommer gou in die praktyk van vas te land.

Maak nie saak of jy gereeld vas, of in die verlede al ‘n keer of wat gevas het, of nog nooit daarby uitgekom het nie. Die boek is so geskryf dat dit vir elke gelowige iets inhou, selfs vir die ervare gelowige wat al vir 40 dae gevas het.

Kry dit gerus as ‘n belegging in jou geestelike lewe. Of belê in julle selgroep of huiskerk se lewe deur die boek saam te deurdink en deurdoen.


bottom of page