Wanneer moeilikheid kom…
top of page

Wanneer moeilikheid kom…


Kan Jesus en die goeie nuus van die evangelie mens werklik help om te cope met die régte lewe? Dis ‘n uiters belangrike vraag wat elke persoon aangaande sy eie wêreldbeskouing of sienings behoort te vra. Is jou siening van die lewe en wêreld kragtig genoeg om jou te dra deur moeilike tye? Ons kan nog verder gaan. Mense het my al baie gevra hoe ek in ‘n God kan glo wat al die lyding en swaarkry toelaat wat in ons wêreld hoogty vier.

Mense cope op verskillende maniere met swaarkry en lyding. Sommige wil weet waarom dit dan met my gebeur het. Ander wil weet dat hulle lyding betekenis het. Nog ander wil weer weet of daar ‘n doel mee was. Hierdie is relevante en moeilike vrae en daar is geen maklike antwoorde hierop nie. Wat ons egter wel uit ervaring weet is dat baie mense daarvan getuig dat geloof hulle deur moeilike tye gedra het.

Neem die storie van Horatio Spafford. Hy was ‘n suksesvolle Christensakeman tydens die 1800’s. Hy, sy vrou en vier dogters sou saam op vakansie gaan na Engeland maar vanweë besigheidsdruk kon hy nie onmiddellik saam met sy gesin op die skip klim nie. Hy stuur egter toe sy vrou en dogters vooruit na Europa toe met die gedagte dat hy ‘n paar dae later sou volg. Ongelukkig tref ‘n onverwagte tragedie egter die vrou en kinders tydens hulle reis: die passasierskip tref ‘n ysberg, sink en al vier die dogters verdrink. Sy vrou stuur toe vir hom ‘n telegram vanaf Engeland om hom in te lig aangaande die tragedie en ook om hom te maan om so gou moontlik self te kom. Hy klim toe met ‘n swaar hart op die skip om sy vrou in Europa te gaan ontmoet. Toe sy skip egter in die omgewing op die Atlantiese oseaan kom waar hy vermoed, die vorige skip gesink-, sy dogters omgekom het, begin hy bid en skryf die woorde van sy gebed neer:

When peace, like a river, attendeth my way, When sorrows like sea billows roll; Whatever my lot, Thou has taught me to say, It is well, it is well, with my soul

It is well with my soul, It is well, it is well with my soul.

In die daaropvolgende tyd word hierdie lied toe woorde van troos en toevlug vir menige Jesus-volgelinge. In ons kerk – veral in die Engelse kerkgemeenskap – is hierdie woorde van Spafford vandag steeds een van die mees gewaardeerde liedere in die Christelike liedereskat. Regdeur die geskiedenis van die kerk is soortgelyke woorde ge-ego deur Jesus-volgelinge wat swaarkry beleef het. Lyding is swaar, werklik swaar. Die evangelie van Jesus plant egter ‘n lied in ons harte wat nie deur lyding uitgedoof kan word nie. Die Bybel gee sekere perspektiewe op ons lyding:

  • Lyding is nie iets nuuts nie. Baie het gely voor ons – lees maar die Bybelverhale en die geskiedenis – en dit plaas ons in goeie geselskap met ander lede van ons geestelike familie wat die pad voor ons geloop het.

  • Ons ly ook nooit alleen nie. Daarvoor het Jesus gesorg. In Jesus het God kom deel word van ons lyding sodat ons nooit van God geskei kan word nie, selfs in die aangesig van die dood.

  • In Jesus verseker God ons dat ons swaarkry of dood nooit die laaste hoofstuk van ons lewens sal wees nie. Op Paasnaweek het Jesus Vrydag baie swaar gely, maar Sondag het Hy die finaliteit uit die dood uitgehaal.

Lyding is nooit ‘n welkome reisgenoot nie. Dis nooit aangenaam nie. Dis heel dikwels uiters traumaties en hartseer. Ten spyte van die intensiteit van ons lyding, het Jesus ons vooruit gegaan hierin en lewend anderkant uitgekom. So kan ons in ons donkerste oomblikke ook – soos Horatio Spafford – prewel:

It is well with my soul, It is well, it is well with my soul.


bottom of page