Hoor jy nog die bekende?
top of page

Hoor jy nog die bekende?


Die gevaarlikste gedeeltes van die Bybel is dié dele wat jy die beste ken! Want jy hoor dit nie meer nie. Dink maar hoe oorbekend Psalms 23, die Onse Vader of verhale van die vier Evangelies is. Ons weet dat daar daar tussen die baie bladsye van die Woord al ons antwoorde, oplossings en bemoediging lê, maar soms hoor ons dit nie meer nie … ja, soms gaan lê die bekende in ons verstand sonder dat dit na ons harte en ons lewe toe deurvloei.

‘n Manier om die Skrif weer met nuwe passie te bekyk, is om ook ander vertalings van jou geliefkoosde Bybelgedeeltes te lees. Sodra ons dan die bekende in ‘n nader onbekende vertaling hoor, sink die woorde op papier weer op ‘n ander manier in ons harte in.

Weet vandag dat God elke dag vir jou ‘n magdom wysheid en goedheid het wat Hy aan jou wil uitdeel. Jy moet soms net tyd maak om dit te ontvang en dit jou eie te maak. Mag God jou daarom elke dag met nuwe passie vir sy Woord bedien en mag Hy jou verstand, harte en siel daardeur versterk.

Mag jy elke dag die bekende en onbekende van die Skrif indrink, mag die Gees jou help om dit te verteer en mag jy kragtig daaruit leef.

Ek wil u Woord weer van nuuts af indrink, Vader. Leer my die dissipline asseblief.


bottom of page