The rewired brain [resensie]
top of page

The rewired brain [resensie]


Mense vind dikwels dat hulle gedryf word deur vrese en negatiewe gevoelens. Hulle word wakker met gedagtes waarvan die omvang en intensie hulle ongemaklik maak, veral as dit gedagtes is wat te doen het met wraak, haat, bitterheid en selfs eiehaat. Dit hou dikwels verband met wat in ‘n mens se verlede gebeur het, met hoe die lewe jou behandel het.

Die belangrike vraag is dan: is ek ‘n slagoffer hiervan? Beheer onbewuste gevoelens, invloede en reaksies uit my verlede my gedrag sodat ek geen beheer daaroor kan uitoefen nie?

In die verlede moes die kerk die vraag probeer beantwoord. Vandag soek ons die antwoord by ‘n nuwe geslag mediese spesialiste wat hulle op die funksionering van die brein toespits. Chilton is so iemand – ‘n professor in fisiologie en farmakologie wat indrukwekkende en wyd-erkende navorsing oor die brein gepubliseer het. En sy twee mede-skrywers is onderskeidelik ‘n spesialis in verslaafdheid-psigiatrie en ‘n spesialis-skrywer. Wat beteken dat die boek wetenskaplik goed begrond is sowel as uitmuntend geskryf is!

En die goeie nuus van dié span is: jy hoef nie ‘n slagoffer te wees van vernietigende siklusse van gedagtes en gevoelens wat jou gedrag en gesindheid bepaal nie. Jy kan jou brein herbedraad deur intensionele keuses wat die vernietigende denke stop sit en jou in staat stel om op jou potensiaal te konsentreer. Jy kan negatiewe herinneringe in ‘n nuwe raampie plaas wat die emosionele assosiasie daarvan verander. Jy kan jou vrese oorkom. Jy kan emosionele en geestelike genesing ervaar. En jy kan jouself bemagtig om vry en vreesloos te leef.

Hier kry jy raad hoe om jou brein te herbedraad sodat die eindresultaat dramaties verskil. Deur opnuut te ontdek wat dit beteken om mens te wees, hoe om ‘n verskil tussen reg en verkeerd te maak (iets wat baie mense nie kon aanleer nie omdat hulle geskiedenis net te traumaties was), hoe om jou met ouerskap te versoen en hoe om vergifnis en die gepaardgaande vryheid te beleef.

Dié boek sit jy nie sommer neer nie. Maar jy hou ook nie gou op lees daaraan nie omdat dit soveel puik insigte bevat. En die positiewe is dat dit vanuit ‘n Bybelse oogpunt geskryf is.

Bederf jouself met ‘n boek wat jou lewe gaan verander omdat dit jou gaan leer om anders te dink. En onthou om die boek daarna aan iemand te gee wat die lees van die boek by jou opgeroep het. Daar is te min bome dat elkeen van ons ‘n eie boek kan koop!


bottom of page