Openbaring hoofstuk 3
top of page

Openbaring hoofstuk 3 [video]


SEWE TOEKOMSPERSPEKTIEWE OP OORWINNING IN DIE SEWE BRIEWE Openbaring dien in die geheel as ʼn omsendbrief aan die sewe gemeentes wat hier in hoofstuk 2-3afsonderlik met briewe bedien word. Dus moes elke gemeente afsonderlik, maar ook almal gesamentlik, hoor wat God deur sy Gees met hulle wil deel. Aangesien die getal sewe vir Johannes ʼn simboliese getal is wat volmaaktheid voorstel, is sy briewe aan hierdie sewe gemeentes ook verteenwoordigend vir die kerk in die geheel. Dit wat hier vir een gemeente geld, geld in dieselfde asem ook vir die res van die kerk. Tog beteken dit nie alle plaaslike kerke is fotokopieë van mekaar nie. Elke brief in Openbaring 2-3 is persoonlik en uniek. Hulle deel wel ʼn oorkoepelende struktuur ter bevestiging van hulle algemene of publieke aard, maar die inhoud van elke brief is so konteks-gerig as wat kan kom. In hierdie verband dien die verskillende beskrywings van oorwinning in al sewe briewe as ʼn goeie voorbeeld: a. Efese Alhoewel al sewe gemeentes opgeroep word om te oorwin en almal hoor dat daar ewige beloftes wag op Christus se wenners (2:7, 11, 17, 26-28; 3:5, 12, 21), word die aard en inhoud hiervan op unieke maniere binne elke gemeente se konteks beskryf. Die gelowiges in Efese hoor byvoorbeeld dat as hulle wen (dit wil sê, enduit aan Christus vashou), hulle van die boom van die lewe sal eet (2:7b). Sonder twyfel is hierdie die boom wat in die paradys was (Gen. 2:9), maar die vrugte hiervan was volgens Genesis 3:22-24 verbode vir die eerste mensepaar. Eers aan die einde van die tyd mag almal wat oorwin van hierdie vrugte eet. Trouens, dit is hulle ewige beloning in die nuwe Jerusalem, daar waar die boom van die lewe vir ʼn volle 12 maande per jaar vrugte oplewer (22:2). Die nuwe Jerusalem hou dus veel groter belofte in as wat die oorspronklike paradys aan die eerste mensepaar gebied het. b. Smirna Op hulle beurt hoor die gemeente van Smirna dat, as hulle hul ore gebruik en na die Gees luister (kyk ook na die gebruik hiervan by Jesus in Mark 4:9-12, 23; Luk 8:8; 14:35), hulle nie deur die tweede dood geraak of beïnvloed sal word nie (2:11). Hierdie tweede dood is niks anders nie as God se ewige straf oor sondaars, soos wat hoofstuk 20:6 en 14 uitwys. Terwyl die eerste dood fisies van aard is, is die tweede dood gelyk aan ewige straf weg van die genadige teenwoordigheid van God af. Diegene wat by Christus die kroon van die lewe ontvang, word dit vir ewig gespaar. Hoe word die term “volharding” in Openbaring gebruik? Gaan die volgende tekste na in hierdie verband: Op 1:9; 2:2-3, 19; 3:10; 13:10; 14:12. c. Pergamum In die geval van Pergamum, wat beroemd was vir perkament wat die basiese skryfmateriaal in die antieke wêreld was, was oorwinning vir gelowiges gelyk aan die verkryging van versteekte manna en ʼn wit klippie (2:17). Manna was Israel se daaglikse genadekos op hulle reis deur die woestyn (Eksodus 16). Teenoor daardie daaglikse porsies in die woestyn wag ewige manna op Christus se mense in die nuwe stad van God. Tans is dit verborge of weggesteek, maar God Self waarborg ewige hemelse manna aan elkeen wat oorwin. Ook ontvang hulle ʼn wit klippie met nuwe name daarop. Jan Du Rand (Die A-Z van Openbaring. ‘n Allesomvattende Perspektief op die Boek Openbaring. Vereeniging: C.U.M. 2007) wys op ʼn paar verstaansmoontlikhede hiervan, soos die juwele in ʼn sak wat die hoëpriester om sy bors gedra het, of die wit steentjie wat dikwels deur regters tydens ʼn verhoor in ʼn kruik geplaas is as hulle iemand onskuldig bevind het. Hyself kies dan die wit klippie as simbool van gelowiges se reinheid (vgl. 7:9) wat aan hulle toegang bied tot die ewige feesmaal van die Here. Hulle nuwe naam sinspeel op tekste soos Jesaja 62:2 wat sê dat God vir getroues ʼn nuwe naam sal uitkies. d. Tiatira Die gemeente van Tiatira hoor dat as hulle oorwin hulle oor al die nasies sal heers (2:26-27). In lyn met Jesus se woorde dat sy dissipels oor die twaalf stamme van Israel sal oordeel (Matt. 19:28), of Paulus se opmerking dat gelowiges oor die wêreld en engele sal oordeel (1 Kor. 6:2-3), is die bedoeling hiermee dat gelowiges wat oorwin ook sal deel hê in Christus se heerskappy. Hulle sal hemelse gesag ontvang om oor goddeloses, wat hier en nou op hulle trap, te oordeel en hulle finaal te laat verkrummel onder die oordeel van God. Net soos Christus sy gesag van die Vader ontvang het, deel Hy dit met elkeen wat in sy Naam oorwin. Ook gee Hy die môrester aan alle wenners (2:28). Venus, die môrester, was immers in antieke tye die simbool van oorwinning en heerskappy. e. Sardis Die gelowiges in Sardis hoor hulle gaan wit klere by die Here ontvang as hulle oorwin (3:5). Die kleur wit (wat 19 keer in Openbaring voorkom) hou verband met reinheid en oorwinning; vandaar die goeie nuus dat Christus oorwinningsklere uitdeel aan elkeen wat permanente gaste by sy fees is. Ook hoor hulle dat hulle name nooit uit die boek van die lewe verwyder sal word nie. Die boek van die lewe is ʼn bekende beeld in Openbaring (vgl. 13:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27), asook elders in die Bybel (vgl. Eks. 32:32; Ps. 69:29; Dan. 12:1; Luk. 10:20; Fil. 4:3). Met name is Moses se versoek in Eksodus 32 dat God eerder sy eie naam uit die boek van die lewe moet verwyder as dat Hy sy volk vernietig, hier op die agtergrond. Gelowiges wat enduit volhard, weet egter dat so iets nooit tot in ewigheid met hulle sal gebeur nie. In dieselfde asem eggo die woorde van Matteus 10:32 ook hoorbaar in vers 3:5c. Diegene wat Christus enduit in die openbaar bely, hoor dat Hy dit tot in ewigheid oor hulle sal doen. Soos wat ʼn getuie in ʼn hof amptelik getuienis oor iemand aflê, sal Christus ʼn goeie ewige getuienis oor al sy mense aflê. f. Filadelfia Die geloofsgemeenskap in die stad Filadelfia hoor in 3:12 dat hulle pilare in God se hemelse tempel sal wees as hulle wen. Omdat groot antieke bouwerke altyd op pilare gerus het, is dit te verstane dat hierdie simboliek verband hou met standvastigheid en stabiliteit. Geen wonder nie dat Paulus in Galasiërs 2:1-10 na die leiers van die Jerusalemkerk, te wete, Jakobus, Petrus en Johannes, as pilare verwys. Soos wat Salomo volgens 1 Koning 7:21 name gegee het aan die twee groot pilare in die tempel (naamlik Jagin en Boas), hoor die gelowiges van Filadelfia dat drie name geskryf word op elkeen van hulle wat oorwin, naamlik die naam van God, die naam van Jerusalem (vgl. Eseg. 48:35; Fil. 3:20) en Christus se naam (3:12b; vgl. ook Fil. 2:9-11). Hulle is dus ewige naamdraers van die drie-enige God. Hierdie name, wat as gelowiges se ewige “identiteitskaarte” dien, bevestig dat hulle sy eksklusiewe hemelse eiendom is wat permanente toegang tot sy stad het. Watter rol speel name in die volgende gedeeltes: Op. 7:3; 9:4; 13:1; 14:1; 19:16? g. Laodisea Die louwarm geloofsgemeenskap van Laodisea (wat gewoond was aan die warmwaterbronne in die heuwels van hulle buurstad Hiërapolis) verneem op hulle beurt dat as hulle nie soos braaksel uitgespoeg wil word nie (3:16), hulle dadelik die regte transaksie met die Here moet aangaan (vers 18). Gelouterde hemelse goud wat hulle sal ryk maak, wit klere wat hulle skaamte sal bedek en oogsalf om aan hulle die nodige sig en onderskeidingsvermoë te gee, is wat hulle by Hom moet kom aanskaf (3:17). In dieselfde asem moet hulle ook die deur na die feesmaal oopmaak vir die Here wat aan hulle lewensdeur staan en klop (3:20). Die handvatsel tot deelname aan hierdie feesmaal is egter aan die kerklike kant. Christus klop, maar die gelowiges van Laodisea moet dit aan hulle kant oopmaak om deel te neem aan die Messiaanse fees (vgl. 13:29; 22:29-30). Die goeie nuus aan sulke oorwinnaars (3:21-22) is dat hulle Christus se troon permanent met Hom sal deel. Die woord “troon” (wat 47 keer in Openbaring voorkom en slegs 15 keer in die res van die Nuwe Testament) hou verband met die ewige heerskappy van God. God se troon simboliseer sy ononderbroke, permanente heerskappy oor alles en almal in die heelal. Elkeen wat enduit hier op aarde vir Christus leef, hoor dus dat hulle ook sal deel in sy ewige triomf. Soos wat die hemelse skares in Openbaring 5:10 dit hardop uitjubel, gaan hulle almal konings en priesters wees in die ewige stad van God. Wat ʼn aanmoediging en wat ʼn vooruitsig! * Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page