Wanneer jy oor jouself praat…
top of page

Wanneer jy oor jouself praat…


Meeste mense hou daarvan om oor hulself te praat. Vra maar enige iemand uit oor sy/haar lewe of stokperdjies. Wanneer mense die keuse gegee word om oor hulleself te praat, gebruik baie die geleentheid om iets te sê oor hulle herkoms, hulle sterkpunte, werksomgewing en nog meer. Dan hoor ‘n mens gewoonlik waarin mense hulle eie identiteit vind. Dit wat jy kies om oor jouself te sê, kommunikeer tog dikwels wat jou eie selfverstaan behels. Wat sal jy antwoord wanneer iemand vir jou vra om iets oor jouself te sê?

Moeder Teresa het egter jare gelede hartsnare geroer en mense diep aangeraak toe sy oor haarself die vraag so geantwoord het:

By blood I am Albanian

By Citizenship I am Indian

By faith I am a Catholic nun

As to my calling I belong to the world

As to my heart, I belong entirely to Jesus

Wat mense so diep geraak het was veral die laaste sinnetjie: Sy het onbeskaamd gesê aan wie haar hart behoort. Mense praat nie gewoonlik so nie. Mense is nie gewoond aan sulke tipe hartstaal nie.

Daardie laaste sinnetjie het egter alles gesê oor haar lewe:

  • waarom sy gekies het om haar lewe te gee vir arm sterwendes in Culcutta

  • wat haar primêre uitkyk op die lewe is

  • wat haar hoofprioriteite behels

  • wie sy as mens was

Jou identiteit word nie bepaal deur watter bloed in jou are vloei, of in watter land jy gebore is, of by watter kerk jy aanbid nie maar aan wie jou hart behoort. Dit sê eintlik alles van jou. Baie mense sê dat hulle Christene is of godsdienstig is maar ek is nie so seker of almal wat so praat se harte aan Jesus behoort nie. En ek praat nie hier van die cliché-agtige “hart-vir-Jesus-gee” wat ons van kleins af geleer is nie, maar wel van ‘n opregte liefdesverhouding wat ons lewens omvat en waaruit alle inspirasie vloei.

G’n wonder dat Jesus sy kerk waarsku om nie hulle eerste liefde vir Hom te verloor nie! Hy deel die gemeente in Efese mee dat Hy die baie goeie dinge raaksien wat hulle doen: hulle onvermoeide en harde werk vir die evangelie, hulle volharding deur swaar tye, hulle ontmaskering van dwaalleraars en die suiwer hou van hulle leer. Maar dan sê Hy (Op 2:4):

Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie…

Hierdie gemeente het hulle liefde vir Jesus verloor! Dit skyn dus moontlik te wees vir iemand om Jesus en sy evangelie te ken maar dat so ‘n persoon se hart nie meer aan Hom behoort nie. Jesus kan skynbaar deel van jou lewe wees sonder dat Hy jou hart in sy besit het. So kan Hy deel wees van die lewe van ‘n gemeente, sonder om alles in so ‘n gemeente te wees. Wat ‘n selfweerspreking is dit nie dat gemeentes inspirerende eredienste kan hou en “effektiewe” kleingroepe kan bedryf sonder dat hulle God bo alles liefhet!

Ek wonder hoeveel gelowiges en gemeentes se lewens, begrotings, eredienste en algemene gemeentelewens getuig dat Jesus hulle eerste liefde is. Kopkennis sonder hartskennis is immers koud en onaangenaam. Spiritualiteit sonder liefde skakel baie gou om in wettisisme. Selfs Jesus-diens sonder ‘n diepgewortelde en passievolle liefde vir Jesus, lei tot hartelose godsdiens!

Jesus het meer as tweeduisend jaar gelede ons harte gewen aan die kruis! Mag ons dit nooit aan iets of iemand anders gee nie!


bottom of page