Openbaring hoofstuk 2
top of page

Openbaring hoofstuk 2 [video]


OORWINNING WORD GEWAARBORG VIR ELKEEN WAT VOLHARD Die sewe geloofsgemeenskappe in die Romeinse provinsie Asië, aan wie die opgestane Christus deur middel Johannes briewe rig, was kosmopolities of stedelik van aard. Efese, met 200 000 inwoners; Pergamum met 120 000 mense, en Smirna met sowat 100 000 bewoners, was onderskeidelik die derde, sesde en sewende grootste stede in die wêreld in die eerste eeu, Rodney Stark (Cities of God: The Real Story of How Christianity Became an Urban Movement and Conquered Rome. San Francisco: HarperCollins. 2007). As gevolg van keiser Augustus besluit om Asië se skuldlas te kansselleer, was die plaaslike elite in hierdie stede oor die algemeen vooruitstrewend. Tussendeur het die verering van die Romeinse keisers orals in Asië posgevat, hetsy as provinsiale kultusse wat deur die “Koinōn” of “Vergadering” van Asië gedryf is, of as bepaalde stedelike kultusse, of by wyse van nie-amptelike plaaslike heiligdomme wat individue vir verskillende keisers opgerig het. Omdat Christene nie aan hierdie aktiwiteite wou deelneem nie, was moeilikheid hulle voorland. Ons het in die vorige Bybelreis reeds gelees van vervolging teen Christene tydens die keiserskap van Domitianus tussen 81-96 nC. Ook in die tyd van Trajanus, tussen 98-117 nC, was vervolging ter sprake (aldus ʼn brief van goewerneur Plinius aan Trajanus). Interessant genoeg, is dit egter net die briewe aan Smirna en Pergamum wat na sosiale werklikhede buitekant die gemeentes se normale aktiwiteite verwys, maar dan word dit met verdrukking van Christene verbind. Gaan die betekenis van ‘n “martus” of getuie na in die volgende gedeeltes in Openbaring: 1:5; 2:13; 3:14; 11:3; 17:6. Alhoewel die sosiale omstandighede van die sewe gemeentes aan wie Johannes skryf, gepaard gaan met spot en vervolging, is dit hulle eie geestelike gemaksugtigheid of selftevredenheid waarop in hoofstuk 2-3 gefokus word. Ons verneem byvoorbeeld dat gelowiges in Efese hulle eerste liefde verlaat het (2:4); dat Sardis geestelik dood is (3:1), of dat Laodisea se Christene nie warm of koud is nie, maar lou (3:16). Daarom dat Christus se vermanings aan hulle nie hier soseer verband hou met hulle volharding te midde van verwerping en uiterlike vervolging nie, maar met ernstige oproepe tot ʼn heilige leefwyse en met waarskuwings dat Hy as hulle Here en Regter aan die einde van die tyd sal terugkeer om geregtigheid oor hulle lewens te laat geskied. BASIESE STRUKTUUR VAN DIE SEWE BRIEWE IN OPENBARING 2-3 Vanuit ʼn retoriese perspektief beskou sou ons saam met Witherington (Revelation. Cambridge: Cambridge University Press. 2003) kon sê dat al sewe briewe uit ʼn eksordium bestaan, waar die outoriteit van Christus beklemtoon word; ʼn narratio, waar sekere sondes van die gelowiges uitgelig word tesame met lofwoorde oor hulle goeie dade, asook ʼn peroratio, waar vermanings en aanmoedigings aan hulle volg om te luister na wat die Gees aan elkeen van die gemeentes sê. Vanuit ʼn strukturele invalshoek sou ons ook die volgende gemeenskaplike kenmerke in die sewe briewe kon aantoon (soos wat dit uit die Griekse teks na vore tree):

  1. Die aanspreek van die aggelos of boodskapper/leier van elke gemeente.

  2. ʼn Bevel om te skryf (wat in die Grieks direk volg op die persoonlike aanspreek van die leier van elke geloofsgemeenskap).

  3. ʼn Profetiese inleidingsformule in Grieks (“tade legei” – “so sê Hy”)

  4. ʼn Unieke beskrywing van Christus.

  5. ʼn Verslag van Christus aan elke plaaslike gemeente, wat gebaseer is op gelowiges se gedrag. Dit sluit aanmoedigings in wat geskoei is op hulle toegewyde uitleef van Christus se voorskrifte (“Ek ken jou werke”), asook ʼn beskrywing van hulle sondes (“Ek het dit teen jou”).

  6. ʼn Waarskuwing dat die Here se oordeel op hande is, asook ʼn dringende oproep tot bekering.

  7. ʼn Oproep om te luister na die Gees (“dié wat ore het, moet luister na wat die Gees sê.”)

  8. ʼn Belofte van toekomstige seën vir elkeen wat oorwin. Christus se rol as die Here wat aan die einde van die tyd diegene beloon wat in geloof volhard het, word hier benadruk.

Watter dreigemente of waarskuwings kom voor in die briewe aan die gemeentes van Pergamum, Tiatira en Laodisea, en watter beloning vir gehoorsaamheid word vermeld in die briewe aan Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea? * Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page