top of page

Grond, vreemdelinge, bywoners…


In die Ou Testament was Israel se identiteit verbind met die belofte aan Abraham dat hulle ’n groot nageslag sou word en dat hulle 'n eie grondgebied sou hê. Die Twaalf Stamme van Israel het juis later op hierdie grond gaan bly. Nog altyd het grond deel uitgemaak van die identiteit van Israel. Maar in die Nuwe Testament verskuif die klem vanaf ’n spesifieke grondgebied na die ganse wêreld waar God se koninkryk moet aanbreek.

Soos wat die Nuwe-Testamentiese kerk regoor die aarde versprei het, het Christene besef dat hulle geloof nie maar net ’n aanvulling tot hulle bestaande identiteit is nie. Hulle is juis die alternatiewe, nuwe volk van God hier op aarde (Efesiërs 2:11-22). Hulle identiteit is nou gesetel in Christus, nie in hulle etniese afkoms, sosiale status, seksualiteit of in enigiets anders nie. Paulus verduidelik hierdie punt glashelder in Galasiërs 3:28. Hier sê hy dit maak nie meer saak of iemand ’n Jood of ’n Griek; ’n man of vrou; ’n slaaf of ’n vrymens is nie - al wat nou tel is gelowiges se nuwe identiteit in Christus.

Baie Christene moes van vroeg af deel met die pynlike realiteit dat hulle skielik onwelkom was in hulle eie families omdat hulle in Christus glo. Ook was baie van hulle die slagoffers van ‘regstellende aksie.’ Vele Christene is met name afgedank in die Romeinse Ryk omdat hulle geweier het om plaaslike gode te vereer wat as beskermers van beroepe beskou is. Ook het hulle dikwels al hulle eiendom en besittings verloor. Wanneer Petrus hoor van sulke swaarkry onder gelowiges, skryf hy vir hulle in 1 Petrus 1:18 en 2:11 dat hulle moet besef hulle is vreemdelinge, bannelinge en bywoners in hierdie wêreld. Christene is nie aldag die smaak van die week of die geur van die maand nie. Maar dis net een kant van die saak. Petrus sê regdeur sy brief ook vir hulle dat hulle moet weet hoe God hulle sien. In Sy oë is Christene nie grondloses, armsaliges en bywoners nie, maar ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk en ’n spesiale nasie wat die groot dade van God die wêreld vol uitleef (1 Petrus 2:9-10).

In hierdie dae van onsekerheid, grond-pratery en wat nog alles, is dit nodig om ’n tweede opinie te kry- die regte een bedoel ek. God se opinie maak vir altyd saak. Sy woorde dra ewige gewig. In sy oë is sy kinders nooit nutteloos, oorbodig, of onbelangrik nie. God self is by ons tot op daardie dag dat ons ons ewige bestemming bereik.


bottom of page