Sink of swem!
top of page

Sink of swem!


Daar is ‘n frase wat mense, instansies en gemeentes soms gebruik wanneer hulle in desperate tye voor moeilike keuses staan. Die frase is sink of swem. Die boodskap agter so ‘n frase is dat omstandighede soms so kritiek is dat daar net een van twee keuses is: maak drastiese aanpassings of gaan tot niet. Dis so eenvoudig soos dit. Die Engelse weergawe van hierdie uitspraak is adapt or die. Dit help mense om te verstaan hoe ernstig ‘n situasie soms kan wees in terme van voortbestaan.

Die skokkende ontdekking is egter dat mense meestal kies om te sink! Ek sien dit soveel keer wanneer ek sommige mense teëkom wat ly onder die een of ander sielewroeging of interne konflik. Hulle is desperaat, so deel hulle my mee. Hulle ken net nie meer nie. Hulle is desperaat en sien nie meer kans nie. So ek reël dikwels vir sulke mense professionele hulp by ‘n gesagvolle beradingsinstituut met ‘n goeie reputasie. In sommige gevalle word daar selfs vir hulle betaal! Al wat hulle moet doen is om die foon op te tel en die afspraak te maak. Mens sou dink dat sulke desperate mense so ‘n geleentheid sou aangryp. Maar moenie glo nie! Na vier maande het slegs een of twee van al die mense gebel en ‘n afspraak gemaak!

Mens sien hierdie tendens van gebrek aan aksie veral in die mediese industrie. Hier is ‘n paar interessante statistieke:

  • Rokers wat hartaanvalle oorleef word gewaarsku dat om op te hou rook, hulle kans op ‘n tweede hartaanval met 37% verminder. Ten spyte hiervan rook 40% van hulle steeds een jaar later.

  • Die American Hart Journal het tot die konklusie gekom dat die gemiddelde oorgewig man wat ‘n hartaanval oorleef (en gewaarsku word dat hy drasties sal moet gewig verloor), na een jaar bykans geen poging aangewend het om gewig afgeskud nie.

  • Die Journal of Clinical Oncology dui aan dat minder as 20% van mense wat kankeraanvalle oorleef hou by die dokters se herstelvoorskrifte om meer rou groentes en vrugte in te neem sodat hulle hulle gesondheidsrisiko kan verminder.

  • Na ‘n kankeroorlewing word pasiënte aangemoedig om veral drie leefstylaanpassings te maak naamlik om op te hou rook, gesond te eet en te begin oefen. Hoeveel mense hou hierby? Minder as een uit twintig mense!

Waarom sou dit wees? Is dit omdat mense nie omgee nie? Ervaring toon die teendeel: mense wil wel graag gesond wees! Die rede vir hierdie gebrek aan aksie is dat mense nie hou van verandering nie. Selfs nie ‘n moontlike dreigende dood kry die meeste mense om aanpassings te maak in hulle lewenstyl nie! G’n wonder dat God vanaf die tyd van die Ou Testament by sy mense pleit om die lewe te kies nie!

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

G’n wonder dat Paulus by die Romeine aandring op verandering nie.

Laat God julle verander…

Verandering bring lewe. Enige lewende ding groei, en groei impliseer verandering! Wanneer Jesus ons dus lei na ware lewe, dan roep Hy ons op tot verandering. Hy roep ons op om ons denke te verander, sowel as ons handelinge, gesindhede, perspektiewe en sieninge. Die een manier waarop ons ons reis en roeping met Jesus kan opsom is persoonlike transformasie.

Dis egter nie ‘n obsessiewe, wettiese proses nie. Nee, God skenk in Jesus vir ons nuwe lewe, genade en vergifnis! Hy skenk aan ons uit vrye genade ‘n nuwe lewe en ‘n liefdesidentiteit. Hy skenk dit egter nie vir ons sodat ons dieselfde kan bly nie, maar sodat ons ‘n gepaste fondament kan hê vir gesonde transformasie.

Laat God julle verander…

Die primêre gebed van die gelowige is dus Here verander mý, nie die regering of die raserige bure of die taxidrywers of die dominee of my man, kind of vrou nie.

Here verander mý!

Dis tog wat Jesus gedoen het. Hy het sy ganse gestalte verander sodat ons kan lewe. Sy karakter en wese het natuurlik nie verander nie maar sy gestalte het wel. Hy het die gemak van die hemel opgegee. Hy het vir die eerste keer in die geskiedenis mens geword. Lees maar Filippense 2:5-6. Hy het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie. Hy het sy hemelse klere verruil vir slaweklere sodat ons sy voorbeeld kan volg.

Mag ons Jesus toelaat om ons te leer swem eerder as om te sink!


bottom of page