Jongmense, oumense, verveelde mense… Hoe gemaak met al ons ‘voyager myle’ in kerkbesoek?
top of page

Jongmense, oumense, verveelde mense… Hoe gemaak met al ons ‘voyager myle’ in kerkbesoek?


Onlangs het ekerk ’n baie groot studie onder jongmense regoor die land onderneem. Sowat 6,000 tieners het deelgeneem aan ’n studie oor jongmense se verstaan van geloof en hulle betrokkenheid by plaaslike kerke (hier is die skakel.) Onsself het baie geleer, onder andere dat jongmense nie so 'kerk-los' is soos wat baie grootmense dalk dink nie. Aan die anderkant het ons ’n gevaarlike tendens raakgesien - hoe ouer tieners word, hoe minder kerklik-aktief is hulle. Ouer is kouer!

Een van die grootste uitdagings vir plaaslike kerke is nie kerkloosheid nie, maar 'kerklike afkoeling.' Dis asof mense net te gewoond raak aan heilige dinge. Kerklik-verveeldheid is dalk die mees algemene 'godsdienstige siekte' onder volwassenes. Mense voel hulle het reeds oorgenoeg 'voyager myle' in kerkbesoek. Hulle ken die kerklike storie. Iemand sê juis nou die dag die kerk bied geen Bybelse verrassings meer nie. 'Same old, same old'… dis maar dieselfde liturgieë, musiek, preke, praatjies…

Hoe gemaak? Wel, enersyds moet ons weet die kerk van die Here is nie ’n vermaaklikheid-gedrewe instelling nie. Die kerk kompeteer nie met die res van die lewe om die oulikste en gewildste te wees nie. Die kerk is die liggaam van Christus. Daarom het ons ’n kragtige tydlose boodskap dat Christus die Heer is. Dis ononderhandelbaar. Maar aan die anderkant is hierdie ’n dinamiese, kragtige, lewensveranderende boodskap wat ook eietyds relevant moet wees. Gemeentes en indiwiduele gelowiges moet gedurig vra hoe hierdie boodskap relevant en uitdagend in hulle eie kontekste kan grond raak. Kerke wat mense aan die slaap preek, benodig ’n dringende 'wake-up call.' Ons kan nie mense verveeld laat rondsit in die skatkamers van die Here nie. Daar’s nog soveel onontdekte skatte, soveel hemelse geskenke om oor te juig en te jubel…


bottom of page