Deel eerder jou geloof as jou bekommernis
top of page

Deel eerder jou geloof as jou bekommernis


“Mag ek my bekommernis met jou deel?” Gereeld hoor jy sulke woorde, want mense deel graag hulle bekommernisse. Om nie van hulle beswaardheid te praat nie. Gee party mense net ‘n halwe kans, dan hoor jy presies waarteen hulle is. Die ergste van alles - hulle het genoeg redes hiervoor, want slegte nuus is deesdae op ons almal se radarskerm. Daarom frons sommiges wanneer jy nog enige hoop het vir die land. Of wanneer jy nie brandende kole vir hulle woede-vure help aandra nie. Wel, moenie! Deel eerder jou geloof met ander as jou bekommernis. Deel jou hoop in Christus eerder as jou wanhoop met die lewe. Weet dat jou geloof in die Here ’n andersoortige tekstuur aan jou die lewe verleen, een wat hand aan hand loop met die Here se soort vrede en hoop. Nee, dit maak jou nie blind of doof vir die harde werklikhede van die lewe nie. Geloof maak nie dat alles met die vinnige swaai van ’n towerstaf gaan verander nie. Geloof is eerder om die God van alle hoop te ken. Dit is om teen alle hoop in in Hom te bly glo. En om Hom gehoorsaam na te volg. Sulke geloof is die wêreldse verskil.


bottom of page