The Other Side of Infamy [resensie]
top of page

The Other Side of Infamy [resensie]


Die skrywer van die boek was deel van die Tweede Wêreldoorlog en het ook aan die geveg deelgeneem waarin Pearl Harbor uiteindelik vernietig is. Hy was aan boord van ‘n oorlogskip en het die hel beleef terwyl Japanese vliegtuie onverwags die Geallieerdes aangeval het.

Dit is ‘n verhaal wat die verskriklikheid van oorlog onder woorde bring, maar ook van die moed, uithouvermoë en geloof van ‘n klomp mense. Terwyl die skrywer aan boord van die oorlogskip was, was hy ook ‘n lid van die Navigators, ‘n bediening van evangelisasie. Terwyl hy die dood in die oë gekyk het in sommige van die gevegte wat die oorlog gedefinieer het, het hy die geleentheid gekry om sy geloof prakties te beoefen. Hier kon hy leer om rus in Christus te vind terwyl dit lyk of die wêreld rondom hom vergaan, om die Woord te bepeins en die vrede te ervaar wat Christus beloof het, wat die wêreld nie ken nie. Hy kon as dissipel van Christus leef te midde van wanhoop wat talle se lewens gekenmerk het.

Die boek is gedetailleerd geskryf, met baie inligting oor die geveg. Die skrywer het ook talle ander aspekte wat verband hou met die oorlog deeglik nagevors. Die inligting word egter so aangebied, saam met die persoonlike belewenisse, dat die boek soos ‘n speurverhaal lees wat jou aandag opneem sodat jy dit nie kan neersit nie. Die besonderhede staan in diens van die memoir.

Die skrywer is al ‘n ent oor die honderd maar nogtans het hy ‘n boek geskryf met behulp van ‘n uitstekende redakteur wat jou lank gaan bybly. Hy het vir 24 jaar in die vloot van die VSA diens gedoen en was op die skip, die USS West Virginia wat gedurende die Japanese aanval op Pearl Harbor gesink is. Gedurende die daaropvolgende jare was hy kaptein op ander skepe van die vloot wat aan verskeie sendings tydens die Koue Oorlog deelgeneem het.


bottom of page