Varsgebakte brood – daaglikse stiltetyd
top of page

Varsgebakte brood – daaglikse stiltetyd


Die term “broodnodig” het nie sommer net ontstaan nie. Dit dui op die stapelvoedsel van baie, veral in Bybelse tye. Geen wonder dan dat Jesus die “Brood van die lewe” genoem word nie.

Dis te kostelik dat Jeremia in die tronk (wel in die paleistronk/binneplaas van die paleiswag) daagliks met brood uit Bakkerstraat bedien was terwyl die stad se voorraad aan die opraak was. En dat Elia waar hy in die veld weggekruip het, soggens en saans met brood en vleis bedien was – deur kraaie!

Die idee was egter nooit dat God se kinders net sit en eet nie – Elisa wat onder ‘n bos gaan lê en wag het om dood te gaan, is deur ‘n engel wakkergemaak met brood: “Staan op en eet!” en: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.”

Laasgenoemde beeld het een oggend by my opgekom toe ek traag was om op te staan en stiltetyd te hou voordat ek ‘n besige dag sou ingaan. God wil hê dat ek sal opstaan en “brood” eet, dat ek die Woord (die Bybel) “eet” en sy lewensbeginsels ontdek. Dan gaan die onbekende pad van die dag wat voorlê nie vir my te lank word nie. Versterk deur hierdie hemelse brood van beloftes en beginsels, kan ek die dag ingaan met my Godgegewe gawes en talente – met die vaste wete dat God by my is.

Met hierdie basis van Bybelse beginsels sal dit vir my moontlik wees om nie toe te laat dat ander se woorde en waardes my lewe bepaal nie. Ek moet net onthou dat, wanneer ek die dag ingaan, daar ‘n verskil is tussen godsdiens en gehoorsaamheid. Godsdiens is wanneer ek volstaan by kerse aansteek in plaas van ‘n pad van gehoorsaamheid – wanneer ek slegs toebroodjies vir begrafnisse maak en nie hierdie kosbare ewigheidsbrood met ander deel met woorde én dade nie.

Ek wil hierdie gesondheidsbrood van die Bybel “eet” en soos Petrus vir Jesus met my hele hart volg want Hy het “die woorde wat ewige lewe gee.” (Johannes 6:68, 1983 Vertaling) En dit nie vir myself hou nie, maar deel met ander wat flou van die honger is.


bottom of page