Het jy geweet dat Jesus Christus in die Soedan woon?
top of page

Het jy geweet dat Jesus Christus in die Soedan woon?


In 2015 was ek saam met die res van die wêreld woedend vir die Suid-Afrikaanse regering. Tydens die Afrika Unie-beraad is President Omar al-Bashir van die Soedan gulhartig deur die regering ontvang. Dít ten spyte van die feit dat hy wêreldwyd verafsku word as gevolg van afgryslike skendings van menseregte en volksmoord wat onder sy regering in die Soedan plaasvind.

In my tyd van woede oor al-Bashir het ek ʼn video op die internet raakge-surf. Die videogreep vertel die aangrypende verhaal van dr. Tom Catena, ’n Amerikaner, wat sedert 2008 in die oorlogsgeteisterde Suide van Kordofan in die Soedan werk. https://www.nytimes.com/

Dit is 2015. Soedanese rebellegroepe skuil in die Noeba-gebergtes in die Soedan. As gevolg hiervan het die regering, onder lyding van al-Bashir, besluit om die totale gebied te vernietig en ontvolk deur ’n verskroeide aarde-beleid te volg. In die proses word gewone landsburgers afgemaai in wat beskryf word as een van die ergste voorvalle van etniese suiwering ooit. Dorpies, skole, kerke en hospitale word eindeloos gebombardeer en die gebied is afgesny van die voorsiening van medisyne, water, voedsel en hulpverleningsorganisasies.

Adam Ellick en Nicholas Kristof, joernaliste by die bekende New York Times, het die gebied reeds verskeie male onwettig deur die oorlogsfront binnegesluip om verslag te doen oor presies wat in die Noeba-gebergtes aangaan.

Die video-resultaat skok my – ek kla mos sonder ophou met die witbrood onder die arm hier aan die Suidpunt van Afrika.

Dit wys verbrande kinders en familielede in rou. Dit wys armoede en swaarkry in die ergste graad. Dit wys die hopeloosheid van ’n situasie waar daar bykans geen hulpbronne beskikbaar is nie.

Dr. Catena is die enigste mediese dokter in hierdie oorlogsgeteisterde gebied met ’n bevolking van 750 000. Hy werk vanuit die Mother of Mercy-hospitaal met slegs 435 beddens en geen lopende water nie. Oor die feit dat die hospitaal reeds elf male gebombardeer is, sê hy: “These kind of things tend to harden my resolve.”

In 2018 is Tom steeds Jesus Christus se hande en voete in die Noeba-streek. In die helfte van die video sê ’n ouerige man: “Dr. Catena is Jesus Christus. Net soos Jesus, wek hy mense uit die dood op, maak hy siekes gesond en laat hy blindes sien.”

Die volgende skoot wys ’n Johannes 3:30-armband aan dr. Catena se arm: “Hy moet meer word en ek minder.”

En skielik bars die presiese betekenis van hierdie alombekende teksvers soos ’n ryp granaat voor my oop.

Dit lyk nie of die oorlog en ellende in die Soedan binnekort tot ʼn einde gaan kom nie. En dan sal die land en sy mense dekades neem om te herstel, indien ooit. Tog is daar hoop. In die vorm van ʼn mediese dokter wat toegewyd en hardkoppig hoop bring in ʼn gebied waar hoop lankal begrawe is onder ʼn hopelose, verskroeide aarde.

Neem asseblief die tyd om die eerste video te kyk. En ook hierdie een: https://youtu.be/gIfjRl0JPTE. Op hierdie manier leer ons saam wat dit werklik beteken as Christus meer word en ek minder...


bottom of page