Ware kerk is wat oorbly wanneer die krag afgaan
top of page

Ware kerk is wat oorbly wanneer die krag afgaan


Jip, ek sit toe nou die Sondag soos baie ander Suid-Afrikaners al sekerlik beleef het, in ‘n erediens sonder krag. Voor die diens het die orkes pas klaar geoefen sonder enige moeilikheid, toe die krag skielik afgaan vyftien minute voordat die diens begin. Omdat daar nie beurtkrag voorspel is vir die oggend nie is daar toe nie voorsiening gemaak vir alternatiewe krag soos ‘n kragopwekker nie. So gebeur dit toe dat ons nie eintlik kon sing nie, alhoewel die predikant voortgebeur het met sy boodskap. Alhoewel dit ‘n relatief ongemaklike uur was, het dit my egter weer laat dink.

Somtyds het mens ‘n belewenis nodig wat jou sloop van al die uiterlike frilletjies en tegnologiese bykomstighede. Terwyl sulke elemente natuurlik belangrik en noodsaaklik is, moet mens in sulke tye vrae vra soos: Wat/wie is ons wanneer ons geen krag het nie? Wat maak ‘n erediens ‘n erediens? Wat maak ‘n gemeente ‘n gemeente en wanneer hou ‘n gemeente op om ‘n gemeente te wees? Ek dink toe weer opnuut daaraan dat die kerk, en die lewe in die algemeen, eintlik slegs gaan oor verhoudings. Wanneer ons dus kerk doen soos wat Jesus dit bedoel het, kan die krag maar soms af wees. Die gebou kan selfs afbrand! Ware kerk is op verhoudings gebou en verhoudings is nie afhanklik van tegnologie nie. ‘n Gesonde gemeente sal so sterk op verhoudings gebou wees dat selfs al verloor so ‘n gemeenskap alle materiële ondersteuning, die verhoudings met mekaar en met Jesus steeds behoue sal wees. Die vraag is dus of ons kerk en lewe só doen, en dat ons verhoudings met God en mekaar so sterk is, dat daar wel iets sal oorbly.

Dieselfde kan gesê word oor ons menswees in die algemeen. Ek vra nou die dag vir ‘n suksesvolle doktersvriend van my: Wat sou oorbly van jou lewe nadat jy gestroop sou word van jou uiterlike beeld van glans en sukses? Het jy die verhoudings en karakter as mens wat jou kan dra vir die res van jou lewe?

Hierdie is moeilike maar belangrike vrae. Baie mense, besighede en gemeentes vermy sulke vrae omdat hulle bang is vir die antwoord. Intussen skaar ek my by Leonard Sweet en Frank Viola wat gesê het:

Christ is all I need. You can strip everything else away from me and I will still be left with Christ. Take away my gifts and ministry; take away signs and wonders; take away the sense of his presence; take away my ability to read; and take away every spiritual and religious pursuit that I have, and I will still have Christ. And in having Him, I have everything.

Waarop bou jý jóú lewe?


bottom of page