Gebede vir my kind [resensie]
top of page

Gebede vir my kind [resensie]


Ek dink gelowige ouers stem saam: die grootste belegging wat jy in jou kind se lewe kan maak, is om vir haar of vir hom te bid.

In my lewe was daar ‘n tyd wat dit die enigste was wat ek nog kon doen omdat ek byna my kind verloor het. Gebed het al die verskil gemaak sodat my kind teruggekom het.

In dié boek het jy die gebede van ‘n ma met drie seuns. Die gebede is in hoofstukke verdeel, gegrond op onderwerpe waaroor ouers vir hulle kinders kan bid. Die individuele gebede en oordenkings wat daarmee saam gaan, dek talle onderwerpe. En omdat verskillende onderwerpe ingesluit word, gaan dit ook oor die ouderdomme van kinders, van babatyd tot na-skooltyd met sy uitdagings vir tieners en jong volwassenes. Binne elke hoofstuk, wat handel oor liefde, keuses, vrede, selfvertroue, geloof, ‘n sterk kern, geselskap, God en die mens as sy verteenwoordiger, is daar ‘n afdeling wat ouers vir hulle kinders kan bid. Dit word gevolg deur gebede wat ouers ook vir hulleself kan bid, voor daar ‘n afdeling is met oordenkings oor ouerskap, aan die hand van die onderwerpe wat in die hoofstuk se gebede gedek word. Die hoofstuk sluit dan af met gedagtes oor ouerskap wat by die onderwerp van elke hoofstuk aansluit.

Die boek verleen hom daartoe dat ‘n ouer, ouerpaar of ouergroep dit effektief kan gebruik, en selfs oupas en oumas vind hierin vele gedagtes wat hulle gebedslewe asook verhoudings met hul kleinkinders sal verryk.

Die oordenkings bevat uitstekende en stimulerende raad, het ek gevind. En die gebede help ‘n mens om met meer perspektief vir jou kind te bid, en waarskynlik om perspektief oor jou kind se gedrag te herwin wanneer dit nodig is.

Indien jy jou drome en besorgdhede oor jou kind effektief met die Here wil deel, is dié boek ‘n uitstekende hulpmiddel. Skaf dit gerus aan; dit gaan ‘n verskil in jou lewe, huis en kinders se gesindheid teweeg bring!


bottom of page