Die krag van lofprysing
top of page

Die krag van lofprysing


Ek het onlangs in die Eenjaarbybel raakgelees hoedat Gideon tydens ‘n nagtelike besoek aan die Midianiete se kamp sommer daar en dan die Here geloof het – met rede. Hy het vroeër sy bedenkinge gehad oor die opdrag wat die Here hom gegee het en eers so ‘n bietjie spioenasiewerk gaan doen. En daar in die vyand se kamp hoor hy hoe een van die Midianiete vir sy maat vertel van sy droom waarin Gideon die hoofkarakter van die nagmerrie is. Gideon se geloof is so versterk dat hy daar en dan die Here geloof en prys

Net so kan ek kies om God te aanbid en te prys – enige tyd, enige plek. Selfs in ‘n persoonlike krisis kan ek besluit om lofliedere te sing eerder as om in ‘n afwaartse spiraal ingesuig te word. Nehemia het self die teruggekeerde Jode bemoedig met: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.” (Nehemia 8:11b 1983 Vertaling)

Jare gelede het ek hierdie opdrag van Nehemia in my eie lewe toegepas toe ons deur ‘n seer huwelikskrisis gegaan het en ek die waarheid ervaar het van die gewilde liedjie “Die vreugde van die Here is my krag.”

Een van my en Brink se mentors het ons geleer: “Prys jou weg tot oorwinning” deur middel van die verhaal van koning Josafat wat teen ‘n oormag te staan gekom het. Josafat het die sangers posisie laat inneem voor die gewapende manne en die Here het vir hulle die oorwinning gegee – sonder dat hulle nodig gehad het om ‘n swaard te lig. So het ons self ook meer as een keer die “koor vooraan gesit” en ervaar dat dit die heel beste manier is om die “oorlogsveld” te betree.

Wat natuurlik gebeur is dat, wanneer ek my oë van die vyand, die gevaar, of die slegte omstandighede afhaal en die Here prys, ek naderhand baie meer bewus is van wie Hy is en hoe magtig Hy is – en my onstuimige, vreesagtige gemoed bedaar sommer én ek word nie lamgelê deur angs nie, maar het die kalmte van gees en die emosionele krag om die krisis te hanteer.

Wat ‘n moeite-werd gewoonte om aan te leer!


bottom of page