top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

My Mission


So ʼn paar jaar gelede kom my Graad 1-seun onaangekondig by my studeerkamer in. Rusteloos staan hy en wag vir my om klaar te maak waarmee ek besig is. Ek hou op werk op my rekenaar en wag. Dit lyk skoon of hy sopas van alles rondom hom vergeet het.

“Wil jy my ietsie vra, Carlo?”

Sy grysblou oë fokus weer en hy kyk my pieringoog aan.

“Pappa…,” begin hy, maar bly eers weer stil.

“Wat is dit?”

“Hoe weet ek wat is my ‘mission’?”

O. Dit is weer hy en sy rekenaarspeletjies, lei ek af.

“Jy moet mos maar net orals kyk watter probleme jy in die speletjie kan oplos. Dit sal self vir jou wys wat jy moet doen as jy met die regte goed besig is.”

“Nee – ek bedoel nie so nie. Soos… in die speletjie, as ek ʼn ‘mission’ doen, dan is daar iets spesifiek wat ek moet doen. En dan as ek die ‘mission’ voltooi het, kan ek aangaan.”

“Ja?” sê ek, maar ek verstaan nog glad nie vanwaar die skielike erns nie.

“Maar dit is nou in die speletjie,” sê hy sag terwyl sy een hand na die rekenaar beduie. “Maar wat as… sê nou maar net God het vir my ʼn spesiale ‘mission’? Hoe gaan ek dit uitvind? Hoe gaan ek weet wat dit is?”

“O, maar ek dink God het vir ons almal ʼn ‘mission’. Jy is hier vir ʼn rede. En ons almal sʼn lyk nie dieselfde nie. Jy is reg,” glimlag ek. Hy trek sy asem vinnig in. Dan praat hy met ʼn fluisterstem: “Maar wat as ek nooit uitvind wat daardie ‘mission’ is nie? Sê nou maar net ek gaan eendag dood en ek het nooit my ‘mission’ voltooi nie?”

Sekondes tik om terwyl ek net in sy gesig staar. Sy swart pupille bevat sterrestelsels daarbinne. Ek durf nie sy lewensnuuskierigheid blus met stowwerige antwoorde nie. Maar dat hy in angs moet lewe oor ʼn moontlike mislukte lewe, is ook nie vir my ʼn opsie nie.

“Pappa wonder eintlik gereeld dieselfde ding vir myself. Ons is mos nie hier om maar net lekker te lewe nie. Daardie gevoel wat jy het, om te soek na dít wat God wil hê… dit is die begin. Dit is baie goed. Jy mag dit maar elke dag vir jouself vra.”

Hy knik. Maar die asemhaling is nog te vinnig na my sin. Ek hoor hoe praat ek verder, sonder dat ek kon dink oor wat ek sê: “Maar die goeie nuus is ook dat Jesus alles gedoen het. God het ook ʼn ‘mission’ gehad. En Jesus het dit gedoen. So jy mag ook ontspan en weet dat die hele groot ‘mission’ van alles, deur God self gedoen is.”

“Regtig, Pappa?” vra hy, en ʼn haasbek-glimlag gaan oop.

“Ja, regtig. So hou aan soek na jou ‘mission’. Dit is ʼn goeie ding. Maar dit is nie nodig dat daardie vrae jou bang maak nie. Want as ons bang is, doen ons niks. Ons is dan te bang ons maak foute. Is dit nie ook maar hoe jou speletjie werk nie?”

Hy spring op. “Ja,” lag hy. “Jy maak foute en nog foute, maar elke keer kom jy agter wat jy eintlik moet doen.  Ek dink God sal my ook wys.” Met dié pluk hy die voordeur oop en gaan soek die hond op wat buite in die son lê.


bottom of page