Die Comrades leer ons oor geloof
top of page

Die Comrades leer ons oor geloof


Toe die Comrades maraton nou onlangs weer op ons TV skerms afgespeel het, het ek teruggedink aan Rosie Ruiz. Rosie was die eerste vrou wat oor die wenstreep is tydens die gesogte VSA-Boston maraton van 1980. Agt dae later is haar goue medalje egter weer teruggeneem nadat die organiseerders agtergekom het dat sy nie die volle maraton gehardloop het nie. Trouens, sy het volgens berugte, op die dag van die wedloop, een myl voor die wenstreep gestaan en wag op die atlete net om skelm en ongemerk voor die eerste vrou in te spring en te begin hardloop. Nadat sy dus slegs een myl gehardloop het, het sy haarself ‘n paar minute later oor die wenstreep gesleep, om sodoende ‘n goue medalje te verwerf.

Dis my ervaring dat baie mense vandag hulle lewens so probeer leef: Baie wil die erkenning of voordeel kry maar min wil die resies hardloop. Baie mense wil die medalje verwerf maar wil nie die nodige moeite doen wat ‘n prestasie vooraf gaan nie. Sommige mense wil gesonde verhoudings hê maar wil nie so hard daaraan werk dat dit ongemaklik raak nie. Sommige jongmense wil hulle loopbane begin op die vlak van sukses en finansiële voorspoed waarop hulle ouers (na veertig jaar se harde werk) geëindig het. Ons wil almal graag gesond wees maar wil nie altyd die moeite doen om gesond te eet en gereeld te oefen nie.

Alles gebeur korter en vinniger as ooit tevore. Ons weet dit. Tegnologie maak die lewe al hoe vinniger. Alhoewel dit nie alles sleg is nie affekteer dit ons menswees en spiritualiteit ingrypend: Sms’e en WhatsApp boodskappe moenie meer as tien lyntjies lank wees nie want mense lees nie meer nie; praatjies en preke moet kort wees want mense se aandagspan kan nie meer lang toesprake hanteer nie; wanneer gebede nie gou genoeg verhoor word nie word daar vinnig beweer dat gebed nie werk nie. Almal het ADHD want byna niemand kan meer lank fokus nie, so voel dit. Wanneer ons iets wil hê dan wil ons dit nóú hê en met so min moeite as moontlik, asseblief. Kitsantwoorde en kitskos is aan die orde van die dag, ook in die kerk. Diep denke, wysheid en insig wat ontwikkel oor jare se ervaring en dekades se kweek van goeie gewoontes is skynbaar besig om uit te sterf. Die soort van geduld wat karakter kweek skyn deesdae ‘n rare kommoditeit te wees.

Om iets vinnig en effektief te doen is natuurlik niks mee verkeerd nie. Maar as almal begin kort paaie neem met alles wat ons doen, hoe gaan ons daardie een belangrike sleuteleienskap aanleer waarsonder ons geestelike lewens nie kan klaarkom nie?

Ek praat van volharding.

Die Hebreërskrywer sê (12:1):

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop.

Paulus skryf:

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel (Gal 6:9).

Die Bybel is dit eens dat ons nie ons geloofswedloop sonder volharding kan voltooi nie. Korter en beter paaie is natuurlik nie altyd verkeerd nie. Maar dit kweek ook nie Goddelike karakter op die langtermyn nie. Kort paaie leer jou nie om hoopvol uit te hou en aan hou deur moeilike tye nie. Ook help dit nie veel in die kweek van gesonde langtermyn verhoudings nie. Dít leer jy deur volharding. Die dinge waaraan Jesus-volgelinge veronderstel is om die meeste waarde aan te heg, soos verhoudings, karakter en persoonlike groei, is dinge wat stadig gebeur met groot geduld en uithouvermoë.

‘n Wedloop word nie gemeet aan hoe hy begin nie, maar hoe daar volhard word tot aan die einde.

Danksy Jesus se volharding tot aan die kruis is dit gelukkig nooit te laat om te begin leer nie, ook nie vir Rosie nie.


bottom of page