God wil nie jou besittings hê nie... wel, nie op hierdie manier nie
top of page

God wil nie jou besittings hê nie... wel, nie op hierdie manier nie


Ek het te min. Ek sukkel om my eie kop bo die water te hou. Maand na maand styg kospryse, En die petrolprys skiet alweer deur die dak. Boonop vra almal deesdae ’n ekstra pond vleis van my- die kerk ook. Die Here sal sekerlik verstaan dat ek niks ekstra het om weg te gee nie. Wel, as jy ook so voel dan is daar baie goeie nuus vir jou - ek bedoel die Handelinge 5:3-4 soort. Jy hoef niks vir die Here weg te gee nie. Jou geld en jou grond en jou besittings is joune om daarmee te maak wat jy wil. God wil dit nie hê nie.

Wag, dalk moet ons vir ’n oomblik halt roep hier by Handelinge 5:1-11. Dit handel oor Annanias en Saffira, twee gemeentelede daar in Jerusalem wat hulle grond verkoop het en toe gemaak het of hulle al die geld vir die kerk gegee het. Maar hulle het gejok. Hulle het ’n deel vir hulleself teruggehou. Petrus het dit agtergekom. Hy het hulle afsonderlik ingeroep en vir hulle gesê dit was hulle geld. Hulle kon hiermee maak wat hulle wou. Maar nou het hulle gelieg vir die Heilige Gees deur voor te gee asof hulle alles weggegee het. Annanias en Saffira is toe net daar dood. Skokkende teks! Dit leer my ten minste dat ons niks vir God hoef ter gee wat nie uit ons hart kom nie Hy soek opregtheid. Dis wat Hy van ons almal vra. Net dit! Ons kan God nie omkoop met enigiets wat ons weggee nie. Ons kan Hom nooit bedrieg nie. Hy kyk altyd na ons harte. As ons nie met blydskap gee nie, soos wat Paulus ook in 2 Korintiërs 9 skryf, dan laat al daardie dinge en geld wat ons deel God koud. Kom ons leer om elke sent en elke stukkie tyd wat ons deel met liefde en deernis te deel. Kom ons doen dit opreg. Kom ons doen dit vir die Here en nie om raakgesien te word nie.


bottom of page