Ons neem ander se plek
top of page

Ons neem ander se plek


Daar is ‘n fliek wat onlangs in ons teaters gedraai het genaamd Seven days in Entebbe. Hierin is daar ‘n kort toneel wat heelwat insig bied aangaande die aard van die evangelie van Jesus. Die rolprent handel oor die gebeure rondom die historiese 1976 kaping van ‘n Air France vlug deur Palestynse vryheidsvegters. Die doel van die kaping was om die groot hoeveelheid Jode op die vlug as gyselaars aan te hou in Entebbe (Uganda) totdat Israel toegee tot sekere eise van die Popular Front of the Liberation of Palestine. Die fliek was uiters effektief in die uitbeelding van die diep traumatiese toestande waaronder die passasiers gely het. Daar was geen twyfel daaroor dat die Israeliese gevangenes tereggestel sou word indien daar nie aan die terroriste se eise voldoen sou word nie.

Omdat die kapers egter slegs in die Israeliese burgers geïnteresseerd was, was daar ‘n vlugtige toneel in die fliek waar die nie-Joodse passasiers vrygelaat word. Terwyl daar gewys word hoedat hulle op ‘n bus gelaai word om veilig na hulle onderskeie tuislande terug te keer, weier ‘n Katolieke non summier om op die bus te klim na veiligheid. Haar versoek was om eerder een van die Israeliese gevangenes se plek in te neem sodat een van hulle vrygelaat kon word.

Alhoewel hierdie non se versoek nie toegestaan is nie, het dit my net weer laat dink aan die liefdes-rol wat Jesus-volgelinge in hierdie wêreld behoort te speel. Wanneer die liefde van God ons lewens oorweldig vir mense behoort ons gemotiveer te raak om soms sekere individue se mense plekke te neem sodat hulle kan lewe. Ek dink byvoorbeeld aan Paulus wat so lief was vir sy eie Joodse landsgenote dat hy die volgende woorde oor hulle sê (Romeine 9:3):

Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.

Wat ‘n skokkende ding om te sê! Paulus is bereid om self ‘n Christuslose ewigheid tegemoet te gaan indien dit die Joodse volk sou kon red! Dis sekerlik een van die mees onselfsugtige uitsprake in die ganse Bybel! Ons kan egter hierin sien waar die dapper non haar gesindheid vandaan kry. Die liefde van Jesus kan gewone mense in helde omskep. Wanneer Christus se liefde eers die dryfkrag agter ons lewens word dan neem ons die plek van ander mense in.

  • Ons dink byvoorbeeld aan die gelowige Maximilian Kolbe wat in Auswitz vrywilliglik die plek ingeneem het van ‘n medegevangene. Hierdie gevangene het ‘n vrou en kinders gehad, en Kolbe is in sy plek tereggestel sodat hy weer sy gesin kon sien na die oorlog!

  • Ons dink aan Martin Luther King wat geveg het vir die regte van mense en uiteindelik self sy eie lewe gegee het sodat anderskleuriges vandag beter lewens kan hê.

  • Ons dink aan Dietrich Bonhoeffer wat sy eie lewe verloor het vir die saak van die vervolgde Jode in Nazi-Duitsland!

  • Ja, een van ons mag dalk self hier aan die suidpunt van Afrika – soos die onbekende maar heldhaftige non in Entebbe – fisies ons eie lewe gee sodat iemand anders kan lewe.

Wat ‘n inspirasie om deel te wees van so ‘n skare van geloofshelde!

Dis egter nie slegs mense wat hulle fisiese lewens gee wat hierdie liefdesgesindheid van Jesus openbaar nie. Daar kan ook ander minder dramatiese voorbeelde genoem word:

  • Mense in ons land wat kies om minder geld te spandeer aan hulleself en eerder ‘n maaltyd te skenk aan iemand wat minder het.

  • Iemand wat hulle eie persoonlike gemak opgee en eerder een van die driemiljoen weeskinders in Suid-Afrika aanneem en onder hulle sorg neem.

  • ‘n Sakeman wat sy kosbare tyd opoffer om in informele nedersettings te gaan entrepreneurskap kursusse aanbied sodat ander mense ook kan leer hoe om ekonomiese vryheid te kan beleef.

  • Onderwysers wat hulle tyd oor naweke opoffer om hulp te bied aan kinders wat sukkel met hulle skoolwerk.

Ware en heldhaftige vorme van liefde is in ‘n sekere sin altyd plaasvervangend: Soos Jesus gee ons sodat ander kan voordeel trek. Dis ‘n ruiltransaksie. Iemand gee en iemand anders ontvang. Iemand sterf en iemand anders lewe as gevolg daarvan.

Wanneer laas was jy iemand anders se held?


bottom of page