Die Grootste Geskenk [resensie]
top of page

Die Grootste Geskenk [resensie]


Die mooiste tyd in baie vrouens se lewe is die tyd wat hulle ‘n baba verwag. Vir gelowiges is dit ook ‘n spesiale tyd, vir ‘n ander rede: voornemende mammas beleef hulle swangerskap ook in terme van geestelike waarde, en gebruik tyd om vir hulle ongebore kleinding te bid. Dikwels deel pappas hierin. God is sowel fisies as geestelik besig om binne jou te werk terwyl Hy die baba in jou baarmoeder vorm, en Hy is ook besig om jou as ma voor te berei vir die taak wat wag.

In dié boek kry jy 40 dagstukkies oor swangerskap, met ‘n gebed en terwyl sommige dagstukkies ook enkele besprekingsvrae bied om jou gedagtes verder te stimuleer. Ander dagstukkies het gedigte of relevante Skrifgedeeltes wat ‘n mens gerus kan memoriseer.

Om jou ‘n idee te gee waaroor die dagstukkies handel, hier is enkele van die temas: die pad van swangerskap, geldsake, moegheid, swangerskapsbroeke, mamma se gewig, kies ‘n naam, baba se gimnastiek, die lang wag, druk, die goeie ma.

Jy het hier die gedagtes van ‘n mamma wat drie keer swanger was en daarom goeie raad oor verskillende onderwerpe kan bied.

Die boek is ‘n ideale geskenk vir iemand wat gehoor het dat sy swanger is. Of om jouself mee te bederf wanneer jy dié pad loop.

Die grootste waarde van die boek bestaan dalk daarin dat dit ‘n mamma help om haar swangerskap te verwoord, en in geestelike terme te beleef. Terselfdertyd gee dit vir haar die woorde om vir haar kind en haarself, asook haar huwelik te bid.

Die boek is baie mooi versorg, soos die kwaliteit wat al CUM se produkte kenmerk.


bottom of page