Maandag-alarm
top of page

Maandag-alarm


Daar is min dinge wat so vinnig onrustigheid kan saai soos ʼn selfoon-alarm op ʼn Maandagoggend vroeg. Binne minute moet kosblikke, boeke, sleutels, selfone en skooltasse alles op die regte plekke beland vir die aanvang van nog ʼn week. En dít terwyl die Sondagnagrus nog in jou lyf lê.

Daar is egter nóg ʼn alarm wat groter onrustigheid ontketen. Die vullislorrie. Hy het so ʼn skril gepiep wat van ver af kom. Soms hoor jy hom nog voordat die selfoon afgaan. Dan is daar baie versperrings waardeur jy moet worstel om die vullis betyds in die straat te kry: Die duvet. Die klerekas. Die kombuisvullisblik se deksel. Die voordeur. Die veiligheidshek. Die buitedrom se deksel. Die tuinhek. En elke versperring mag beteken dat jy dalk met ʼn nugter maag in die straat staan en kyk hoe die vullislorrie wegry. Sonder jou vullis. Hallo, Maandag! En so bevind ek my een Maandagmiddag elders in die buurt. Ek hoor die vullislorrie dreun iewers voor my. Hy dreun te lank. Iets is fout. Ek kom om die draai en sien hoe drie vullismanne aan die lorrie rondhang terwyl hulle wag. Twee van hulle kollegas is besig om ʼn angstige man in sy Corsa te help. Die Corsa wil nie aan die gang kom nie. Die vullismanne se gesigte drup van die sweet, die inspanning maak kepe op hulle voorkoppe. As hulle my soms soggens voor sonop opjaag – hoe laat staan hulle dan op? Maar hier is twee van hulle, duidelik stokflou na ure se herhalende werk. En hulle stoot met hulle moeë lywe die onwillige motor aan die gang. Die bestuurder daarvan glimlag verlig. Die motor-stoters vryf hulle rûe en klouter weer op die vullislorrie. Sy alarm piep hard en hy dreun verder vorentoe. ʼn Groot deel van die buurt moet nog gedoen word.

Ek lees in Lukas 8:43-48 dat ʼn vrou onwetend ook alarm gemaak het. By Jesus. Terwyl Jaïrus se dogtertjie op sterwe lê, gryp sy haar kans aan. Maar tyd is min. Jesus het werk om te doen. Hy stop egter om eers met die vrou te gesels. Sy is genees, sy is weer rein. Dit is duidelik dat Jesus ʼn interne dryfkrag het wat sy prioriteite bepaal. Sy skedule verhoed Hom nie om by iemand stil te staan wat Hom nodig het nie.

Tussen alarms, besig-wees, skedules en noodkrete leer ek iets by Jesus en die vullisverwyderaars van Brackenfell. Die teenoorgestelde van onrustigheid is nie rustigheid nie. Dit is betekenisvolheid, of “significance”.


bottom of page