Klein genoeg om ‘n geleier van God se krag te wees
top of page

Klein genoeg om ‘n geleier van God se krag te wees


Paulus moes leer hy is nie die eindverbruiker van die Here se krag nie. Of ‘n vertoonvenster hiervan nie. Hy is slegs ‘n swak menslike geleier van God se groot krag. So skryf hy in 2 Korintiërs 12. Paulus het met name geleer God se krag word juis in menslike swakheid geopenbaar. Ook moes Paulus ontdek hyself kort nie nog krag nie, maar genade. God se genade is vir homself genoeg.

Ons almal moet saam met Paulus leer dat ons eie menslike swakhede juis Goddelike geleenthede is. In Jesus se omgewing gaan dit nooit oor "spog-krag" om te wys hoe groot ons eie geloof is nie. Dit gaan oor genade! Wanneer die Here se krag wel ter sprake is, soos in Handelinge 1:8, gaan dit oor die krag om oor Jesus te praat. In 2 Timoteus 1:7-8 gaan dit oor die krag om te volhard op die lydingsroete van Christus. Geestelike krag lyk dus heeltemal anders as krag elders in die wêreld.

Ons as gelowiges voel nie aldag die Here se groot krag nie. Net soos wat ‘n dun elektriese draad nie die krag voel wat daardeur vloei nie, hoef onsself egter nie eers sterk te voel voordat ons aan diens kom vir die Here nie. Ons is menslike geleiers van aardskuddende hemelse krag. Ons gelei dit na ander mense toe. Let wel, onsself is nie die eindverbruikers van die Heer se krag nie. Daar aan die anderkant die lewenspad bevind die eindverbruikers van die Here se krag hulleself. Jy en ek moet maar net die hemelse kragkabels oor die lewenspad aanlê na mense toe wat God se liefde kortkom. Tussendeur benodig onsself elke dag 'n vars porsie hemelse genade.

Onthou, daar’s nie ‘n “SD” embleem onder gelowiges se klere wat staan vir “Super-Dissipel” nie. Volgelinge van Jesus is altyd breekbare erdekruike, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 4 skryf. Ons kry seer. Dikwels is ons broos en breekbaar. Ons struikel en val. Menigmale is ons oor raad verleë. Ons stel ander mense teleur. Nogtans is die Here vol genade met ons. Nooit hou Hy nie op om Hom oor elkeen van sy kinders te ontferm en sy krag deur ons te laat vloei nie. Aan Hom kom al die eer toe.


bottom of page