Sewe vrae aan Jona
top of page

Sewe vrae aan Jona


God self het woorde in Jona ben Amittai II se mond gelê en hy moes dit uitspreek, klanke aan die Heilige se gedagtes gee.

Tog was hy onwillig, dikbek en ongehoorsaam.

As ek eendag vir Jona ontmoet, sal ek graag ʼn joernalistieke onderhoud met hom wil voer en hoor wat hy in nabetragting oor sy lewe en roeping te sê het. Ek berei solank ʼn paar vrae voor:

1. Mnr. Ben Amittai, in Jona 1:9 verklaar jy: “Ek dien die Here, die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Hoe op aarde het jy gedink dat dit moontlik is om van Hom af weg te vlug?

2. Jona, ek sou nie kon slaap in jou skoene nie. My gewete en vrees vir die toorn van die Here sou my moeg gery het. Tog het jy onder in die boeg van die skip gelê en dut terwyl die storm gewoed het. Vertel my jou geheim teen slaaploosheid.

3. Ai, Jona, ek weet dis ʼn voorspelbare vraag. Maar hoe op dees aarde oorleef ʼn mens vir drie dae lank in die maag van ʼn vis? Tonne soutwater spoel deur die kieue en suurstof is min. Die maagsure brand en die maaginhoud vrot.

4. Meneer, jy het ʼn dag lank in die strate van die korrupte, bedorwe, goddelose en immorele Nineve rondgeloop. Soos ʼn kranksinnige het jy sonder ophou geroep: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” Nie net die inwoners nie, maar selfs die koning het tot bekering gekom as gevolg van jóú woorde. Jona, begryp jy die omvang van die wonderwerk wat daar in Nineve plaasgevind het?

5. Jona, jy dien ʼn genadige God wat die begrip van vergifnis vervolmaak het. Ook jóú sondes moes Hy keer op keer vergewe. Na jou verblyf in die vispens het jy vroom gebid: “U, Here, het my van die dood gered.” Hoekom kon jy nie vrede maak met die feit dat selfs die Assiriërs onder die sambreel van sy genade lewe nie?

6. Nog ʼn ding. In die jaar 2018 smag ek daarna om God’s stem hard en duidelik te hoor. Net een maal. Hoe klink die klanke wat by sy mond uitkom?

7. Die boek Jona eindig stomp, met ʼn sedeles uit die mond van God. Ag, Jona, vertel tog die einde van die storie. Het jy tot jou sinne gekom? Het jy die 670 kilometer terug na Israel met ʼn huppel in jou stap aangepak? Of het die besef dat God’s genade nie net tot Jode beperk is nie, swaar op jou gemoed gedruk?

Jona, Jona, hoe aard ek tog nie na jou nie. Ek bly verbete aan my herkoms en geskiedenis, aan my ras, kultuur, volk en gewoontes kleef.

Ek hoor die stem van God – al is dit op subtiele maniere – en steur my daaraan niet. Ek vlug eerder, beland in die moeilikheid en verklaar dan weemoedig: “Hulp kom net van die Here af.”

Hoeveel wurms het God al gestuur om my gemaksones op te vreet? Hoeveel skroeiende winde het Hy al losgelaat om my snoesige nes warm te waai? En hoeveel male het ek al huil-huil verklaar: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe”?

Ai, Jona, ek en jy het meer in gemeen as waarmee ek gemaklik voel...


bottom of page