Liggeraaktheid is geen deug nie
top of page

Liggeraaktheid is geen deug nie


Ons leef in ‘n samelewing waar dit blykbaar ‘n edel ding geraak het om aanstoot te neem. Dis asof sommige mense dink dat aanstoot neem ‘n morele oorwinning is. Politiese korrektheid is aan die orde van die dag en ons moet tog net nie iets sê wat iemand ontstel nie. Almal skyn op eiers te loop uit vrees dat iemand – soos die gewoonte vandag is – in aanstoot gaan uitbars. En wanneer iemand soms heel onskuldig iets sê wat effens kontroversieel op die oor val dan kan so ‘n persoon genadeloos uitgekryt word as die vyand van alles wat goed is! Enige iemand wat nie die presiese polities korrekte “jargon” gebruik wat korrek val op sekere groepe se teer gemoedere nie word vinnig bestempel as “fascisties”, “vêr-regs”, “fundamentalisties”, “liberaal”, “vêr-links”, of “groen”. Baie mense is emosionele bloeiers: sê net die verkeerde ding vir hulle en hulle bloei onophoudelik.

Dit kan natuurlik ‘n goeie ding wees om sensitief te wees. Natuurlik is dit ‘n goeie ding om ander mense in ag te neem met wat jy sê. Wanneer iets nie in liefde gesê kan word nie, moet so ‘n persoon beslis liewer stilbly. Wanneer dit egter gebeur dat ‘n samelewing so oorsensitief en polities korrek raak dat niemand meer weet wanneer hulle veilig is om iets te sê nie dan begin so ‘n samelewing se waardes baie gou ly onder die gevolge:

  • Die waarheid word dan onderdruk want mense is bang om te praat en hulle (nodige) bydra te lewer

  • ‘n Slagofferkultuur word geskep waar alles altyd die ander party se skuld is in plaas van dat elke mens self verantwoordelikheid neem vir sy/haar eie lewe

  • Mense se eie pyn maak dat hulle vir hulleself sekere regte toe-eien ten koste van ander

  • So skep ons ‘n vervelige, humorlose wêreld waar niemand meer goediglik ‘n grap kan maak nie, uit vrees dat hulle verkeerd opgeneem- en onophoudelik geroskam gaan word

  • Die kwaliteit van kritiese denke neem af want omdat daar geen toleransie meer is nie, is daar nie meer genoegsame diversiteit in opinies wat ‘n samelewing help om krities te dink, luister, redeneer en te evalueer nie

  • Slinkse manipulasie word die primêre manier waarop mense hulle sin kry want eerlike, opregte en openhartige gesprek word nie meer gehoor of waardeer nie

  • Die Kerk van die Here Jesus word ook daardeur geaffekteer en raak bang om hulle profetiese stem te laat hoor

  • Later word dit in die algemeen eenvoudig onhoudbaar om in so ‘n samelewing, besigheid of gemeente te leef

Op so ‘n uitdaging in die samelewing gee die Nuwe Testament natuurlik ‘n oorbluffend eenvoudige antwoord. Wanneer Paulus praat oor hoe liefde werk dan sê hy eenvoudig onder andere (1 Korintiërs 13: 5):

Liefde… is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

Dit wil sê mense wat in die naam van liefde leef, raak nie kwaad oor die geringste dingetjie nie. Jesus-volgelinge word nie seergemaak deur kleinighede en elke woordjie uit die mond van ander mense nie. Jesus-volgelinge is nie bloeiers nie. Ons huil nie oor alles nie. Wanneer dit soms wel gebeur dat mense ons doelbewus seermaak en onreg aandoen dan hou ons nie boek van daardie kwaad nie. Ja, ons los dit nie net daar nie. Ons praat die waarheid, erken ons pyn, konfronteer die relevante mense in liefde en praat dit uit op ‘n volwasse manier. Dis egter net kinders en babas wat kleinserig is oor alles. Om alewig aanspraak te maak op aanstoot is geen morele oorwinning nie, dit kan veel eerder ‘n aanduiding wees van onvolwassenheid en selfobsessie.

Dink net wat sou gebeur het as Jesus liggeraak was oor enige van die pyn wat Hom aangedoen is! Dan sou Hy waarskynlik nooit gebid het dat die Vader sy vyande moet vergewe nie.

Jesus-mense kweek samelewings, besighede, gesinne en gemeentes wat meer volwasse is. Hulle leer veel eerder om te sê “Vader vergewe hulle…” as “Ek neem aanstoot…”

Dis die voorbeeld van Jesus.


bottom of page