Verskuif vanaf ’n dagboek na ’n vandagboek saam met God
top of page

Verskuif vanaf ’n dagboek na ’n vandagboek saam met God


Kalenders, dagbeplanners en dagboeke is goed bekend aan ons almal. Hierdie hulpmiddels help ons om ons lewens uit te sorteer en goed georganiseerd te hou. Of is dit dalk oorgeorganiseerd? Miskien kort ons ook ‘n VANDAG-boek. Hoekom? Wel, vandag maak regtig saak. Vandag is propvol hemelse potensiaal. Net vandag is in elk geval tot ons beskikking. Ons leef slegs teen een vandag op ‘n slag. Elke vandag is die dag van die Here. Dis die enigste dag waar ons die stem van die Here kan hoor, soos wat 2 Korintiërs 6:2 leer. Daarom is ons besig met ‘n daaglikse oefening in tydmors as ons nie elke vandag se 86,400 sekondes, of 1,440 minute, of 24 uur reg uitleef nie. Dan loop ons die Here se lewe mis wat tans gebeur teen die spoed van een vandag op ‘n slag.

David Norris skryf: “How you spend your time is more important than how you spend your money. Money mistakes can be corrected, but time is gone forever.” Ons durf nie saam met die hoofkarakter van die fliek Shirley Valentine sê “I got lost in unused time” nie. Dit is om behoorlik verdwaald te wees. Begin jou eie VANDAG-BOEK saam met die Here. Doen die volgende:

  • Sê vandag vir God uitbundig dankie vir vandag se brood.

  • Tel vandag se seëninge voor sonsaktyd en prys die Here hieroor.

  • SMS vandag ‘n vriend en vertel watter kosbare invloed sy of hy in jou lewe uitoefen.

  • Vergeef iemand vandag teen wie jy ‘n slegte gevoel in jou binneste ronddra.

  • Bid vandag vir ’n persoon wat swaar op jou hart lê.

  • Doen vandag goed aan ’n arme. Moenie uitstel tot môre as jy vandag reeds vir iemand iets goed kan doen nie, soos wat Spreuke 3:27-28 jou leer. Dan skryf jy ’n goeie vandag-boek.


bottom of page