Nog ‘n pa-lose seun
top of page

Nog ‘n pa-lose seun


Ek merk op by die skool dat die lewe van ‘n seun van ‘n afwesige pa maar soms moeilik raak. Hulle sukkel om hulle emosies te verwerk en die frustrasie spoel oor in woede. Hulle baklei met maats en onderwysers en die vuiste werk heeldag. Dit kan wees dat die pa net afwesig is en glad nie belangstel nie of dat die pa, soos in my geval, gesterf het. Interessant genoeg is dat die dogters die pyn en frustrasie van ‘n afwesige pa beter hanteer as seuns. Tog is dit vir my werklik hartseer dat daar papas is wat hulle seuns heeltemal afskryf of ignorer as daar ‘n skeiding kom in die huwelik.

Elke Maandag sit ek met hierdie seuns rondom ‘n tafel en ons deel met mekaar oor hoe ons ons pappas verlang. Ek dink die hartseerste van die gesprekke is die gedeelte waar ons wie ‘n gestorwe pa het, weet hoekom ons hulle nie sien nie, maar die ander seuns wie weet hulle het ‘n pa maar hy stel nie belang nie. Van die seuns is so woedend en basuin dat hulle ook nie belangstel om hulle pappas te sien nie, maar tog weet ek dat hulle is so honger… al is dit net ‘n sms van daardie pa.

En so sit ons om die tafel en kan ek met hulle deel ook my pyn en verlange wat ek destyds en soms nog steeds ervaar, maar dat dit wel beter raak soos die jare verloop. Dat in die afwesigheid van ‘n aardse pa het God regtig na vore getree en vir my ‘n vader geword (Ps. 68). Dit klink na ‘n cliché maar ek kan regtig hiervan getuig dat God vir die vaderlose ‘n vader wil wees. In my stille tyd is dit altyd opvallend dat ek God meer aanspreek as Vader en nie as God en Here nie.

Ek onthou op my 21ste verjaarsdag hoe my neef die, kapelaan, die oggend vroeg by my gedraai het. Hy nie mooi storietjies ‘gespin’ soos God het jou pa nodig gehad nie, of God het die mooiste roos kom pluk vir sy tuin nie. Hy’t my gesê dit gaan nog ‘n seer en lang pad wees, maar ek moet onthou ek het familie wat omgee en iemand wat nog meer omgee as wat ek ooit sal verstaan-dit is God. En Hy wil vir my ‘n vader wees. Ek weet nie eers watter teksvers hy in my hand gedruk het nie, maar dié woorde sal ek nooit vergeet nie. Vandag 25jaar later kan ek werklik getuig dat God my vader is en sal altyd wees!


bottom of page