Besig wees is nie dieselfde as harde werk nie
top of page

Besig wees is nie dieselfde as harde werk nie


As jy mense wil omkrap, dan moet jy vir hulle vertel hoe besig is jy. Iemand sal dadelik reageer met ’n opmerking soos: “dis nog niks; jy moet my vol program sien.” Almal is besig. Dit is vergaderings, beplanningsessies en byeenkomste waar jy kyk. Party mense is selfs so besig dat hulle niks konstruktief gedoen kry nie! Hulle skarrel rond van vroeg tot laat om almal rondom hulle tevrede te probeer hou. Moenie so leef nie. Besig wees is nie ’n Bybelse opdrag nie; harde werk is wel. Ja, daar’s ’n verskil! Harde werk is om jou beroep (en die res van jou lewe) as deel van jou roeping te sien. Dan gaan dit nie meer vir jou oor die vraag of jy besig is nie, maar oor 'n effektiewe lewe in diens van die Here.

Besig wees is om ander mense se roeping namens hulle te probeer uitleef. Jy is egter nie geroep om dit te doen nie. Leef slegs jou eie roeping uit. Doen dit wat jy elke dag moet doen tot eer van die Here en nie om deur mense raakgesien te word nie. Dit leer Kolossense 3:23 jou. Doen alles wat jy doen so goed en deeglik as wat jy kan. Wees betroubaar. Wees eerlik. Sorg ook dat ander mense deel in die vrug van jou arbeid. In Handelinge 20:34 sê Paulus juis hy het hard gewerk sodat die swakkes ook iets kan hê om te eet. Doen dieselfde. Werk tot eer van die Here en tot voordeel van ander. Dan werk jy reg. Harde werk sal nooit jou energie steel as jy dit doen binne die raamwerk van jou roeping nie. Dan sal jy nooit “doodbesig” of “doodmoeg” wees nie. Maar onthou in dieselfde asem ook Paul Washer se wyse woorde: “One of the greatest attacks of the enemy is to make you busy, to make you hurried, to make you noisy, to make you distracted, to fill the people of God and the Church of God with so much noise and activity that there is no room for prayer. There is no room for being alone with God. There is no room for silence.”


bottom of page