Stiltetyd, nuwe gedagtes, nuwe gedrag
top of page

Stiltetyd, nuwe gedagtes, nuwe gedrag


Rigters 17:6 In daardie tyd was daar nog nie 'n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Ek lees die Bybel (taamlik) gereeld en weet wat daarin staan. Maar,wanneer ek egter in meningsverskille of argumente beland waar daar baie emosies by betrokke is, kan ek ook soos die mense in die tyd van Rigters doen wat reg is in (my) eie oë. Dan tree ek op in lyn met my seergemaakte gevoelens en nie die grondbeginsels wat die Bybel my leer nie.

Ek dink dan dat my geskille/uitvalle met ander Christene ‘n persoonlike saak is, maar soos ‘n vrot deel van ‘n vrug die hele vrug onaantreklik maak, is hierdie onopgelosde meningsverskil ook so vir my as Christen.

Paulus vermaan in die brief aan die Filippense twee van sy medewerkers, Euodia en Sintige om hulle geskille op te los. Hy gaan selfs so ver om vir Timoteus te vra om hulle daarmee te help.

Wat ek in my stiltetyd by die Here leer behoort my optrede te bepaal. In Romeine 12 vers 2 moedig Paulus my aan om God toe te laat om my te verander deur my denke te vernuwe, myself te herprogrammeer.

Dan luister ek nie meer na negatiewe selfspraak en laat my gedagtes op hol gaan oor die ander persoon en sy foute nie. Dan gebruik ek liewer hierdie nuwe denkpatroon wat ek by die Here leer om inskiklik, verdraagsaam en geduldig te wees - vredemaker te wees. So word ek verander deur hierdie nuwe manier van dink te absorbeer, te integreer en word dit my nuwe ingeboude denkpatroon. So kyk ek met ‘n nuwe bril na enige argument en soek na nuwe oplossings.

‘n Pragtige volwasse jong vrou vertel onlangs hoe sy saam met haar man gaan koffie drink het. Sy het ervaar dat haar man bo-oor haar praat en sy nie ‘n woord inkry nie. Sy vertel dat, terwyl sy van binne gekook het oor sy onsensitiwiteit, dit die uiterste inspanning gekos het om nie in negatiewe selfspraak vas te val, haar gedagtes op hol te laat gaan en ‘n dag lank stilstuipe te hê nie. Omdat sy in haar stiltetyd anders geprogrammeer was, kon sy dit uiteindelik reg kry om in liefde uit te reik en die saak uit te praat.

As ek God toelaat om my denke te vernuwe, sal my gedrag ook nuut wees.


bottom of page