Hy wil heeltyd by jou wees!
top of page

Hy wil heeltyd by jou wees!


En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Jesaja 30:18a

Gebed is nie altyd maklik nie. Dit verg regtig soms groot inspanning om met God te praat. Veral as ons besig is, Hom nie verstaan nie, kwaad vir Hom is of sommer net nie besonder baie aan Hom dink nie. Gebed is ‘n verhouding waarin jy God toelaat om in te beweeg in die diepste sentrum van jou persoon. Jy laat Hom toe om te sien wat jyself nie eintlik wil sien nie, te doen wat jy dalk nie voor kans sien nie en jou te beweeg na plekke toe waar jy uit jou gemaksone sal moet gaan. Gebed is nie altyd maklik nie, maar tog bly dit so ’n wonderlike voorreg dat ek en jy heeldag met ons Vader kán praat.

Toe die Woord Méns geword het en onder ons kom woon het, het die voorhangsel van die heiligdom geskeur het sodat ons onverpoos, heeltyd tot ons Vader toegang kan hê. Hy het in ons harte woning kom maak, nie om ons ongemaklik te laat voel nie, maar om ons ons onverpoos van sy liefde vir ons te oortuig.

Kom ons sê opnuut vir Hom: “Welkom in my hart Here. Maak U-self asseblief tuis in my lewe.”

Vergewe my dat ek soms so min met U praat, Here. Help my meer bid!


bottom of page