Ontmoet daardie vergete wyse jongman van die Bybel (Deel I)
top of page

Ontmoet daardie vergete wyse jongman van die Bybel (Deel I)


Ons almal ken vir Job, daardie strydlustige gelowige wat arm druk met sy vriende, Elifas, Bildad en Sofar, en ook met God. Job en sy vriende val gedurig deur die loop van Job 3-31vas in oor en weer beskuldigings. Terwyl Elifas, Bildad en Sofar meen dat Job en sy familie allerlei geheime sondes gedoen het, en dat God hom nou terugkry hiervoor, weier Job om dit te aanvaar. Hy hou voet by stuk dat hy regverdig geleef het en dat God onregverdig teenoor hom optree. Maar dan, uit die bloute, daag daar ’n wyse jongman op in hoofstuk 32. Sy naam is Elihu. Hy het alles aangehoor en is nou ontsteld met Job en sy vriende oor hulle hardkoppigheid (32:1-5). Omdat hyself ’n wyse man is, wou hy nie te gou reageer nie (32:6-7). Maar nou kan hy nie langer stilbly nie. Elihu het gedink wysheid kom saam met grysheid, maar nou besef hy dat die grysheid alleen gekom het vir Elifas, Bildad en Sofar (32:9). Elihu weet dat die Gees van die Almagtige God ook wysheid gee aan jongmense (32:8). Elihu sê met name vir Jobb se vriende hulle is verward (32:13-16). Dan wend Elifas hom direk tot Job in hoofstuk 33-37. Onder andere sê hy vir Job dat mens nie vir God moet beskuldig nie (33:13). God is goed. Hy wil mense graag red. Hy wil dat mense wegdraai van hulle slegte paaie af en Hom dien (33:16-18). Wanneer hulle terugdraai na Hom, ontdek hulle lewe in oorvloed (33:18-28).

Hierdie is super-wyse woorde uit die mond van ‘n onbekende jongman. Net soos wat Elihu vir Job oproep om stil te bly en te luister, moet ons ook stilbly sodat ons ware wysheid kan ontdek (33:29-33). Ons moet hoor dat al is die wêreld boos en sleg, God is goed en genadig! Al val alles binne-in ons en rondom ons inmekaar, God is steeds ons ewige Rots. Hy het nie verander omdat slegte dinge ook met goeie mense gebeur nie. Hy is nog altyd dieselfde. Hy is die God van ontferming en genade, soos wat die kruis van Golgota luidkeels vertel. Luister na Hom en leef.


bottom of page