“Waarom nié ek nie?”
top of page

“Waarom nié ek nie?”


... moenie dink dat as julle Christene word, God skielik julle omstandighede verander nie. 1 Korintiërs 7:17a

My dierbare ma se tweede naam sou “Gesond-leef” kon heet. Sy’t presies die regte kosse geëet, was aktief en sou kwalik ‘n ongesonde ding oor haar lippe neem. As lank-leef dus sou afhang van ‘n gesonde leefstyl, behoort sy ‘n springlewendige 100-jarige te kon word. En tog ... het sy op ‘n relatiewe vroeë ouderdom mondkanker gekry. Tydens haar twee jaar lange intense lyding voordat sy gesterf het, sou ek dikwels vra: “Waarom mámma? Waarom word mamma, wat so die ‘regte” goed gedoen het en so baie vir ander mense beteken, so siek?” En keer op keer sou sy my vraag beantwoord met die woorde: “Waarom nié ek nie?” Groots genoeg was sy om te weet dat ons almal maar net ons bes kan doen, maar dat die uitkoms van ons lewe en sterwe nie in ons hande lê nie.

Dalk worstel jy ook met “waarom?”-vrae. Met dinge wat jy nie verstaan nie. Met pyn en gebeure wat nie sin maak nie. Weet dan: God hoor jou hart en het groot deernis met jou stryd. En Hy sál op sy tyd en sy manier, sorg dat dinge uiteindelik ten goede meewerk.

Kinders van God word nie van die pyn en lyding kwytgeskel nie. Maar ons kan dit anders hanteer, want ons wéét: Ons loop nie ons pad alleen nie. Selfs in waarom-tye is Hy baie baie naby aan ons.

Here, ek verstaan nie. Maar ek vertrou.


bottom of page