A praying life [resensie]
top of page

A praying life [resensie]


Gebed is vir baie Christene ‘n probleem. Hulle word deur skuldgevoelens gedryf omdat hulle nie genoeg bid nie. Maar hulle beste voornemens om te bid werp nie vrugte af nie. Indien daar nie goeie rede is om te bid nie, kom hulle gewoon nie daarby uit nie.

Die ander kant van die muntstuk is dat ons lewe dikwels gekenmerk word deur vrees, angs, ‘n gebrek aan vreugde en diep vrede, en geestelike leweloosheid.

Paul Miller se doel is om jou met dié boek toe rus sodat jou gebedslewe gereeld en voortdurend jou lewe vul met hoop, vertroue en die verwagting dat God in jou lewe gaan ingryp.

Hy leer jou hoe om soos ‘n klein kindjie met jou Vader te praat en tyd met Hom te spandeer omdat jy bewus raak hoe nodig jy Hom het en hoe hulpeloos jy sonder Hom is. Hy vertel jou hoe maklik sinisme in jou hart intrek en hoe jy dit kan oorkom, deur jou oog op Jesus te hou. Hy vertel jou hoekom ons dit so moeilik vind om te vra maar ook hoekom ons in gebed mág vra.

Hy skryf oor Jesus se skynbaar buitensporige beloftes, dat enigiets wat ons die Vader in sy Naam vra ons sal kry. Hoe dan gemaak met gebede wat nie beantwoord word nie? Hy leer jou hoe om in die woestyn te bid, in die vorm van die klaaglied. En hy verduidelik hoe jy God se storie kan bid, deur Hom in jou daaglikse lewe te begin plaas en raaksien.

Wat ek veral nuttig gevind het, is hoe hy die Bybel in gebed aanwend. Die verhale in die Bybel kry nuwe betekenis wanneer ek dit in my gebede inkorporeer en ervaar hoe die Heilige Gees my verhaal laat afspeel teen die konteks van wat in die Bybel gebeur het. Buiten dat dit my geloof bou, ontsluit dit ook my lewe vir God se groot werk.

Daar is talle praktiese wenke: hoe om gebedskaarte te benut om kontinuïteit in jou gebedslewe te verseker, hoe om ‘n gebedsjoernaal te hou en wenke hoe om God se stem te hoor.

Dié boek verskaf material vir ‘n belangrike reis, na ‘n lewe gevul met gebed en die bewustheid van die Here se teenwoordigheid. Belê in jou eie geestelike lewe of dié van iemand wat die Vader op jou hart lê. Die vrug daarvan is ‘n lewe gevul met vrede en vreugde, en die Here se teenwoordigheid.


bottom of page