Die Opstanding vra: Leef jy of bestaan jy?
top of page

Die Opstanding vra: Leef jy of bestaan jy?


Elke Paasnaweek kan ek nie help om terug te dink aan die fliek The Shawshank Redemption nie. Die fliek handel oor die belangrikheid van hoop as een van die belangrikste hoekstene vir ‘n mens se lewe. Die hoofkarakter in die storie is Andy Dufresne, wat (onskuldig) lewenslank gevonnis word vir die moord op sy vrou. Hy speel ‘n tipe van Christusfiguur in die verhaal in die sin dat hy radikaal anders optree as die ander gevangenis in die tronk. Hy is saggeaard, liefdevol en probeer mense help. Sy vriend Red – gespeel deur Morgan Freeman – beskryf hom as iemand wat op die een of ander manier nie toelaat dat die donkerte en troebel atmosfeer van die tronk sy karakter negatief affekteer nie. Hy weerstaan dit en bly leef met ‘n positiewe gesindheid. Red neem waar dat Andy op die gevangenisterrein rondstap sonder ‘n besorgdheid in die wêreld. Later sou Red egter agterkom wat dit is wat Andy so anders maak: Hy leef met hoop!

Dis juis hierdie hoop wat ernstige argumente veroorsaak het tussen Any en Red in die byna twintig jaar saam as gevangenes. Red het gemeen dat iets soos hoop geen betekenis het in hulle omstandighede nie en selfs gevaarlik kan wees. In ‘n plek soos die gevangenis word mens immers eintlik van alle hoop ontneem. Jou lewe is eintlik in der waarheid hopeloos aangesien jy geen toekomsverwagting het nie. “Hope can drive a man insane”, is Red se woorde.

Andy het egter volgehou dat dit juis hoop is wat die lewe die moeite werd maak. Gevolglik is een van die baie one liners wat ek uit die fliek onthou, die frase uit Andy se mond:

Get busy living, or get busy dying.

Hoop gee vir jou ‘n toekomsverwagting. Hoop help jou om te leef, werklik te lééf! Dis dan hierdie frase wat ook vir Andy dryf om uiteindelik beheer te neem oor sy toekoms en op te hou om soos ‘n slagoffer te leef. Hy ontsnap dan uit die tronk deur middel van meesterlike beplanning aan sy kant. Hy het ontsnap deur onder andere honderde meters deur ‘n ondraaglike vuil rioolpyp te kruip totdat hy uiteindelik aan die ander kant uitspoel in ‘n skoon stroom rivierwater, ‘n vry man!

Vir iemand wat geestelik na hierdie rolprent kyk kan daar nogal baie simboliek (en ooreenkomste met Jesus se verhaal) raakgesien word:

  • Die korrupte en skynheilige tronkbewaarder herinner sterk aan die Fariseërs, skrifgeleerdes en priesters wat godsdiens bloot gebruik vir hulle eie gewin en verryking. Hy is verantwoordelik vir meeste van Andy se lying en beproewinge.

  • Andy se ontsnapping laat mens nogal baie dink aan die paasgebeure: sy leë tronksel laat mens dink aan Jesus se leë graf: almal is stom van verbasing en weet nie wat gebeur het nie. Die tronkbewaarder sê selfs sarkasties: It’s a miracle!

  • Sy langsame kruip deur die gemors in die rioolpyp roep nogal herinneringe op aan Christus se lyding op Goeie Vrydag.

  • Sy vryheid herinner baie aan die opstanding en die hoop wat die opstanding bring.

  • Na sy ontsnapping bewerk Andy uiteindelik ook “redding” en hoop vir sy vriend, Red, en gee vir hom rede om te leef eerder as om in isolasie sy eie lewe te neem.

  • Die fliek eindig by die see waar Andy in wit geklee is (baie soos aan Jesus dink) en herstelwerk doen aan ‘n vissersboot!

Die mees uitstaande element van die prent is egter dat die verhaal mens konfronteer met die keuse of jy met of sonder hoop gaan leef. Get busy living or get busy dying.

Die verhaal eindig waar Red “bekeer” word en homself uiteindelik ook wend na hoop. Die ganse storie eindig met sy woorde:

I hope I make it across the border.

I hope to meet my friend and shake his hand.

I hope the pacific is as blue as it has been in my dreams.

I hope…

Hierdie is sommige van die gedagtes wat Opstandingsondag by my wek. Jesus se verskyning uit die leë graf het by sy dissipels weer ‘n toekomsverwagting geskep! Johannes se evangelie laat jou voel die dood is nie meer nie. Vir ons elke-dag-bestaan bring Jesus se opstanding verrykende moontlikhede! Dit beteken onder andere:

Lewe wen!

Liefde wen!

Die geskiedenis het betekenis!

Die mensdom is iewers heen oppad!

Ons lewens tel!

Ons werk is nie verniet nie!

Ons inspanning is nie sonder vrug nie!

Ons foute is nie fataal nie!

Ons dood is nie finaal nie!

Ons het hoop op ‘n toekoms!

Ons verhoudings is onberekenbaar kosbaar!

Ons keuses maak saak!

God is onuitspreeklik goed en Hy is vír ons!

Die keuse is ons s’n: Get busy living, or get busy dying!


bottom of page