Money problems marriage solutions [resensie]
top of page

Money problems marriage solutions [resensie]


Churck Bentley is die uitvoerende beampte van Crown Financial Ministries, wat poog om individue, gesinne en kerke te help om in finansiële vryheid te leef as 'n direkte gevolg van harttransformasie. Om uit die skuld te kom, op 'n begroting te leef, en om geld in die bank te hê, is belangrik. Maar as dit alles is wat ons gedoen het, sal ons misluk in ons ware doel.

Rentmeesterskap gaan nie daaroor dat jy soveel kan spandeer as wat jy wil op wat jy wil nie. Ware rentmeesterskap gaan daarom dat jy jou lewe so inrig dat God jou lewe tot sy eer en in sy koninkryk kan spandeer.

Ná jare wat hy en sy vrou vir Christene advies gegee het oor hoe hulle kan sorg dat finansies nie wrywing en skeiding in hulle vehouding indra nie, skryf hulle nou dié boek. Hier kry jy sewe sleutels tot die huwelik en finansies wat hulle deur die jare sien uitkristalliseer het in die talle verhale wat mense met hulle gedeel het. Die boek is dus uit ervaring gebore.

Die sleutels hou verband daarmee dat ‘n mens perspektief in jou huwelik moet behou, weet wat die Bybel jou oor geld en die gevare verbonde daaraan leer, verstaan waarvoor God die mens gemaak het, lewe volgens sy filosofie van geld, deurgaans jou maat se persoonlikheid en uniekheid verstaan en respekteer, leer om saam met jou maat ‘n gesamentlike plan van aksie in terme van finansiële verdienste en besteding opstel en implementeer, en ‘n proses vestig wat uiteindelike sukses waarborg.

Klink dit baie ingewikkeld? Die boek neem jou stap vir stap sodat jy telkens by die Bybel uitkom voor jy weer ‘n draai in die praktyk gaan maak.

Die huwelik is nie die bron van mense se finansiële probleme nie, verduidelik die skrywers. Studies toon wel dat die leidende bron van oneigheid in huwelike wat tot egskeiding lei, finansiële argumente is. Nee, die huwelik is eerder die beste oplossing van daardie probleme. Die voorwaarde is dat twee mense vrede in die huwelilk moet nastreef. Niks kom by die positiewe voordele van ‘n egpaar wat in vrede met mekaar leef en verenig en gesamentlilk finansiële besluite neem nie.

Hier het jy ‘n boek met uitstekende raad vir jong egpare wat die lewe saam aanpak, of selfs vir ouer getroude mense vir wie finansies steeds ‘n bron van onmin bly. Dit bevat baie praktiese raad wat teen die agtergrond van die Bybelse beskrywing gebied word van God se doel met ons lewe en die plek wat handel en besigheid daarin opneem.


bottom of page