“Waarom ék?”
top of page

“Waarom ék?”


“ ... Maar die oudste broer was so kwaad hieroor dat hy nie eens sy broer wou gaan groet nie ...” Lukas 15:28

Baie van ons ly aan die Oudste-kind-sindroom. Ons probeer in baie opsigte om die regte dinge te doen, neem nogal verantwoordelikheid vir ons rolle en het die vermoë het om hard te werk. Maar dis juis ons wat nogal daarna strewe om op die pad van “gehoorsaamheid” te loop, wat bewustelik of onbewustelik glo dat mens verkry wat jy verdien. Werk jy hard, word jy beloon. Doen jy die regte dinge, kry jy die goedkeuring van ander ..of van God. En dis hierdie aksie- en reaksie-ingesteldheid wat dit dan vir hierdie toegewyde mense moeilik maak om te aanvaar dat daar toe wel slegte dinge met goeie mense kan gebeur. En dis waarom ons dan, wanneer die lewe ons omslaan, so maklik kan vra: “Waarom ék?”

Die waarheid is dat niemand van ons enige iets verdien nie. Ongeag ons fluksheid, toegewydheid en diens aan God is alles wat ons ontvang maar net genadegoedheid uit God se hand. Selfs ons geloof, ons vermoëns om sy wil te doen en ons gawes, is ‘n geskenk van Hom.

Ons kan maar net elke dag uitroep: “Dankie Vader. Vir alles. Ook vir die dinge wat nie so rooskleurig is nie. Dankie Here, ook vir die dinge wat ek glad nie verstaan nie.”

Here, vergewe my dat ek u manier van doen soms bevraagteken. Ek besef vandag maar net weer: ek ís louter genade!


bottom of page