My Huis

April 3, 2018

 

Sodra my blinde labrador saans al vrolik-snuffelend my knieë vind, weet ons altwee iets. Sy weet waar om te gaan sit vir ʼn maagkielie. En ek weet dat ek nou by die huis is. “Huis” is die plek waarheen jy gaan om net te kan wees.

 

Met een middag-draffie gaan ek by ʼn klompie huise verby. Dit is ʼn area met min plante en baie sement. By een huis is daar ʼn kabaal wat uit die erf uit opklink. Vier seuntjies speel so aggressief moontlik krieket. Of tennis. Want elkeen het ʼn kolf en niemand hou op slaan nie. Gille en skreeue klink op tussen die sementmure. Maar hier regs voor, teen die geroeste hek, sit ʼn meisie op haar eie. Sy tuur tussen twee tralies deur. Die tennisbal tref haar been, maar sy reageer nie eers nie. Ek waai. Eers na my tweede waai lyk dit of haar oë oopgaan. ʼn Glimlag groei so effens aan die een kant van haar gesig en sy waai met een stadige armswaai terug. En dan gaan haar sluier weer toe. Sy kyk roerloos na die berge in die verte.

Ek draf  ʼn eentonige bult uit. Bo, teen die hoek by die stopstraat, sit ʼn klein sekuriteitshuisie van plastiek. Dit is eerder ʼn mobiele toilet, maar sonder die toilet. Niemand weet eintlik na watter kant toe die wag wat binne-in sit, mense moet stop of fynkam nie. Hy hou gewoonlik so na alle rigtings toe dop. Vrolike musiek kom by die hokkie uit. Nog iets klink soos ʼn stoomtrein in die hokkie. Nuuskierig loer ek in. Die man is in sy blou uniform. Hy is besig om sy swart stewels te politoer. Hulle blink al oral. Soos ek verbydraf, steek hy sy kop by die deur uit en hy glimlag breed. Dit is duidelik dat hierdie man “tuis” is, al is hy by die werk. Op die ritme van die musiek buk hy dansende weer af om sy taak te voltooi.

 

Verder af in die pad vang my oog ʼn duifnes. Dit is leeg, laag en lelik. Ek weet nie hoe die paar skamele takkies bymekaar bly nie. En tog hou duiwe aan oorleef.

 

By my huis, lê my labrador vir my en wag by die hek. Al kan sy nie sien nie, kyk sy straataf na waar ek my verskyning moet maak. Sy is tuis. En tog wag sy vir haar spesiale iemand om op te daag.
 

Tussen die honde, duiwe, kinders en wagte bly ek dink oor “huis”. En aan Psalm 127:1 “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.” En aan die feit dat Jesus hier is, in my huis. Maar ook dat ek vir Jesus wag, omdat die huis van sy Vader baie woonplek het.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

November 1, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: