Fasting for spiritual breakthrough [resensie]
top of page

Fasting for spiritual breakthrough [resensie]


Elmer L. Towns. Fasting for spiritual breakthrough: A practical guide to nine biblical fasts. Bethany House. 1996 Revised, updated edition

Johannes die Doper en sy dissipels het gevas, Jesus het gevas, Paulus en die ander apostels het gevas, die vroegste gemeentes het gevas. Wat maak die moderne kerk van vas? Ek vermoed talle Christene het nog nooit ‘n preek daaroor gehoor, of lering wat in die gemeente aangebied is nie. En het daarom ook nog nooit gevas nie. Wel dalk ‘n dieet gevolg, maar dan met heel ander motiewe!

In dié nuttige boek skryf Elmer Towns, ‘n bekende teoloog en prediker in Amerika, onderhoudend oor vas. Hy beskryf nege verskillende soorte vas wat in die Bybel voorkom, elkeen met ander doelwitte en wyses van vas. Daar is die vas van Elia, Samuel, die weduwee van 1 Konings 17, Esra, Daniël, Ester, Johannes die Doper, die vroegste dissipels en Paulus. Soms het dit gegaan om die mag van die gewoonte van sonde te breek, ander kere om perspektief op probleme te verkry, of om vir herlewing voor te berei, of om negatiewe emosionele en persoonlike gewoontes se mag oor mense te breek, om in die nood van ander te voorsien, of om leiding van Bo te kry wanneer ‘n moeilike besluit geneem moet word, om na genesing te soek, om die invloed van ons getuienis te verbreed of om beskerming teen die Bose. Geweet dat al dié motiewe vir vas in die Bybel voorkom? Dis genoeg rede om die boek te lees, slegs om te sien hoe gevarieerd mense se redes was hoekom hulle gevas het.

Towns begin sy boek op die regte plek, by die profesie in Jesaja 58:3-4, wat vas direk in verband bring met ‘n lewe van toewyding aan God. ‘n Mens vas nie om gesien te word of om ‘n stelling te maak nie; onthou hoe Jesus verwys na die Fariseërs wat hulle gesigte mismaak wanneer hulle vas sodat mense tog hulle toewyding sal waardeer! Nee, ‘n mens of gemeenskap vas om na God te soek, om sy wil te verstaan en te doen, om Hom toe te laat om deur sy Gees in hulle lewe te begin beweeg.

Vas kan onthouding van kos wees terwyl vloeistof ingeneem word, van alle kos en vloeistof, van sekere soorte kos of om kos te roteer sodat jy sekere tye sekere soorte kos uit jou dieet laat. Die fisiese voordele van vas is al herhaaldelik beklemtoon. Die geestelike voordele is egter soveel meer kosbaar, indien ‘n mens dié tyd as toewydingstyd gebruik en by die Here uitkom.

Een van die beste maniere om God in ons sekulêre wêreld in te dra, is om te vas. Dit skep ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid, wat gekoppel is aan die honger gevoel in die agtergrond.

Die boek is geskik om ook in kleingroepe gebruik te word, en bevat vrae vir bespreking.


bottom of page