top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Game of Thrones: Simbolies van ʼn verdorwe era


Die televisiereeks Game of Thrones is sedert 2011 tot vervelens toe op een en elk se lippe. ʼn Ruk gelede deel ek een van derduisende Game of Throne-“memes” (daardie prentjies met komiese woorde of slagspreke wat oral in die kuberruim ronddryf): “I’m one of 1% people who do not watch Game of Thrones. Are you shocked?”

Verlede week besluit ek om die onthouding te breek en die eerste episode te kyk. Niks, maar niks kon my op die grafiese seks voorberei nie: verkragting, orgie, seksuele geweld teenoor vroue, bloedskande, hoerery, wellus en owerspel alles in die loop van ʼn enkele episode. Die eerste sewe seisoene bestaan uit 67 episodes. Seisoen 8 word in 2019 verwag.

Die volgende dag vang my oog ʼn ander “meme”: “I don’t always watch porn. But when I do, I watch Game of Thrones”.

Dit laat my dink aan Jesus Christus se woorde in Lukas 11. In hierdie hoofstuk spreek Hy netelige sake aan: Beëlsebul, bose geeste wat huis soek, die verdorwenheid van die mens, suinigheid en so meer.

Hy maak ook ʼn stelling wat in hierdie immorele en goddelose tyd waarin ons lewe baie ernstig opgeneem behoort te word: “Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.”

My oë mis niks nie. My kinders sʼn ook nie. Ons sien elke dag mooi, heilsame dinge. Maar ook op ʼn daaglikse basis beelde van onnatuurlike seks, geweld en ander menslike vergrype.

Ek wonder met ʼn rooi gesig hoe sou ʼn tydsverloopfotografiese (time lapse) video van dít wat ek die laaste week alles gesien het, lyk?

Ondervinding het my geleer dat ek sukkel om sekere skadelike, onheilsame beelde wat my oë gesien het weg te bêre in die diep, donker voue van my brein. Die beelde verdwyn nooit weer nie; dit het die gewoonte om uit te spring sodra ek dit die minste verwag – grotesk en besoedelend.

Dit laat ʼn swart merk op my liggaamslig, ʼn blinde kol wat die grense tussen boosheid en heiligheid verdof.

Is daar nog hoop in hierdie karakterlose, perverse tyd waarin ons lewe?

Verseker:

My hoop lê in die feit dat die Hoëpriester as mens ook aan versoeking onderwerp is. Hy het medelye met en begrip vir my swakhede. Nou kan ek sonder om skaam te voel na die genadetroon gaan sodat ek krag en genade en soms ook vergifnis kan ontvang. Sodoende sal ek eendag in die hemel jubel – daar waar alles glashelder en sonder vuiligheid is. (Hebreërs 4)


bottom of page