Fiksheid
top of page

Fiksheid


Wanneer ons oor fiksheid praat het almal ‘n prentjie wat in hulle kop gevorm word. Fiksheid en fiksheidsprodukte is ‘n multibiljoen dollar industrie. Oral word fiksheidsapparaat, klere, toerusting, ens. geadverteer. Die nuutste fiksheidsoefening is altyd voorbladnuus of dit nou Zumba dans of Bokwa of Pilates is. Vermaaklikheidsterre gee fiksheids DVD’s uit en maak groot geld. Almal belowe ‘n ander lewe as jy net die stappe in hul DVD volg!

Nuwejaarsvoornemens van beter fiksheid en gewigsverlies neem tyd en inspanning en gebeur nie oornag nie, maar verg toewyding, ‘n goeie oefenprogram en wilskrag.

Die Bybel het ook raad wanneer dit by fiksheid kom:

1 Tim 4:7 “Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.”

Net soos met fisieke fiksheid is daar ook oefeninge en gewoontes wat ons kan help om ‘n geestelike lewe te ontwikkel wat ons al nader aan God se Vaderhart sal bring. Net soos met enige fiksheidsprogram is dit nooit te laat om te begin nie en is daar verskeie maniere om geestelik fiks te word. Soek een wat by jou persoonlikheid en omstandighede pas en wat werkbaar is.

‘n Paar voorstelle vir ’n geestelike oefenprogram is o a.:

1. Spandeer tyd in die Woord:

Begin met net 5 minute in die oggend of aand. Wat ookal by jou leefstyl inpas. Vermeerder die tyd soos jy fikser word.

2. Word sommer net stil in God se teenwoordigheid

Stilword is ‘n baie goeie geestelike oefening en iets wat ons gejaagde Westerlinge baie moeilik vind.

3. Bid en oordink Sy Woord

Joshua 1:8” Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal” (Die Boodskap).

4. Vernuwe jou manier van dink

Romeine 12:2 ”Moenie tuis raak in hierdie wereld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee”

5. Dien ander met jou tyd en liefde

Matteus 20:28 “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Om die lewe deur God se oë te sien is deursettingsvermoë en stamina nodig in jou oefenprogram, maar as jy aanhou met jou program kan verseker wees dat jy geestelike fiksheid sal bereik.

“There is a difference between interest and commitment. When you're interested in something, you do it only when it's convenient. When you're committed to something, you accept no excuses, only results.” ― Kenneth H. Blanchard


bottom of page