Toe ontwrig Jesus die ete
top of page

Toe ontwrig Jesus die ete


Paasfees, die grootste fees op Israel se kalender, begin altyd op die middag van 14 Nisan (rondom Maart-April) wanneer die paaslammers geslag word. Na sononder, wanneer die 15de Nisan aanbreek, word die Paasmaaltyd gevier, soos wat Eksodus 12 voorskryf. Hierdie ete het oor die eeue heen ’n vaste orde aangeneem wat seënbedes, groente, ongesuurde brood, bitter kruie, vleis en vier bekers wyn insluit. Van geslag tot geslag is Paasfees ook in Jerusalem op hierdie manier gevier… tot een aand in die jaar 30 na Christus. Toe verbreek Jesus die normale verloop van hierdie belangrike ete. Toe verander Hy die verhaal. Dit was op die Donderdagaand kort voor sy kruisiging. Toe Jesus daardie aand aan tafel die brood (matzah) breek, is daar vir die eerste keer toe nie net gepraat oor die paaslammers wie se bloed aan die deurkosyne gesmeer is om die Israeliete in Egipte te red nie. Hoekom nie? Wel die Paaslam was Self aan tafel daardie aand in Jerusalem. Binne enkele ure sou Jesus ’n offer bring wat veel groter en eindeloos meer effektief is as die bloed van die paaslammers doer in Egipte.

“Die brood is my liggaam wat vir julle gegee word,” het Jesus gesê nadat Hy dit gebreek en vir almal uitgedeel het (Lukas 22:19). Toe vat Hy die beker en spreek ’n seëngebed hieroor uit. Nogmaals word die grootste reddingstorie ooit in Israel se geskiedenis aangevul met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed wat vir julle uitgegiet word” (Lukas 22:20). So begin die Nuwe Testament van God by hierdie unieke Paasfees in Jerusalem. So word Paasfees opgegradeer met die Ete van die Here. Daardie aand in Jerusalem word die storie van Paasfees vir altyd ontwrig. Paasfees is van toe af nie meer die grootste storie ooit nie; die kruis is! Ons Paaslam se liggaam en bloed is die finale en volkome offer. Nou leef ons vir ewig. Loof sy Naam!


bottom of page