How to lead when you’re not in charge [resensie]
top of page

How to lead when you’re not in charge [resensie]


Met ‘n voorwoord deur Andy Stanley wat die beginsels van die boek heelhartig onderskryf en vertel hoe die toepassing daarvan organies is, handel Scroggins se boeko or hoe om ‘n uitmuntende leier te wees wanneer jy in die posisie is dat jy aan iemand verslag moet doen. Hoe beteuel jy jou ambisie wanneer iemand anders die leier is? En hoe gemaak as daardie leier na jou mening en smaak nie sterk en effektief leiding neem nie? Dié vrae het al menige keer op lokale vlak gemeentes groot skade berokken, wanneer twee leraars in een gemeente in konflik raak. En as jy in ‘n situasie is waar die leier nie jou toelaat om verder te ontwikkel of om deel aan die bestuur te hê nie, moet jy gaan of bly?

Die uitdaging het eerstens te doen met die belangrikheid van selfleierskap. Jy moet jouself en jou eie gesindheid bestuur in so ‘n situasie.

Invloed is die kapitaal waarmee leiers handel dryf; jy is eers ‘n leier wanneer jy invloed oor ‘n groep mense uitoefen en hulle jou (wil) volg. Wat nodig is om ‘n leier met invloed te wees, is dat jy ‘n sin van identiteit het. En jou identiteit is die produk van jou verlede, jou mense, persoonlikheid, jou doel en prioriteite. As geroepe leier skep God jou vir iets groter as jouself, om iets vir ander te beteken. En jy mag dit bely omdat jy na God se beeld geskep is, sy kind is wat Hy uitverkies het en Hy jou so liefhet dat Jesus Christus vir jou gesterf het. Hieruit groei ‘n gesonde identiteit en selfbeeld wat jou toelaat om konsekwent teenoor mense op te tree, met selfvertroue te leef, jou nie te veel aan die opinie van ander te steur nie en minder verwar te word deur jou fluktuerende emosies.

Die vier gedragstyle wat voorgestel word vir sulke leiers, is dat hulle hulleself bewustelik moet lei, doelgerig positiwiteit moet kies, krities moet dink en die versoeking van passiwiteit moet verwerp.

Hieruit kry jy wysheid om te besluit of jy in spesifieke situasies die gesag van die leier moet uitdaag, en hoe jy dit moet doen. En ook die wysheid om te besluit of die tyd om aan te beweeg dalk aangebreek het.

‘n Nuttige boek om as riglyn byderhand te hou wanneer jy as medeleraar die spanning beleef om as 2IC te werk, en dalk onder iemand met wie jy soms koppe stamp.


bottom of page