top of page
  • deur Stephan Joubert

Wees ’n lewende testament en erfporsie


Nou die aand kyk vroulief en ek Shirley McLaine se nuwe fliek “The Last Word.” Dit gaan oor ’n omgesukkelde dame wat voor haar dood reeds haas doodsberig of “obituary” geskryf wil hê. Interessant genoeg wil nie een van haar vriende of familie aanvanklik iets oor haar sê nie. Dan inspireer dit haar om haar lewe reg te ruk en ’n beter storie met haar oorblywende stukkie lewe te skryf. Feit is, ons moenie wag tot ons dood is voordat mense begin praat oor wat ons nalatenskap of ons “legacy” was nie. Die Prediker leer my dat ons almal net een lewe het en dat ons dit voluit en met vreugde moet leef. Hy weet dat die lewe dikwels sinneloos is, en dat baie dinge niks anders is nie as ’n gejaag na wind. Tog weet die Prediker ook dat ons elkeen kan kies vir vreugde (8:15; 9:4-7). Ons almal het die keuse of ons wil vrolik wees en of ons ons daaglikse brood met blydskap wil breek in die Here se teenwoordigheid.

Ons erfporsie of testament is nie ons nadoodse nalating van geld en besittings aan ons geliefdes nie; in elk geval nie volgens die Prediker nie. Ons erfporsie is om ons testament nou reeds uit te leef in die geselskap van God en ons geliefdes. Ons is lewende testamente. Ons leef ons testament reg uit as ons die murg uit die pype van elke dag leef. Ons leef ons nalatenskap vandag reeds uit as die Here by ons raaksien en saam met Hom feesvier by ons kerk, ons werk; tussen ons familie vriende, vreemdelinge… waar ook al. Ons laat ander mense ook deel in ons erfporsie as ons saam met hulle ’n stukkie brood breek om hulle lewens ook met vreugde te omraam, soos wat die Prediker ons oproep om te doen. Kom ons verander in lewende testamente!


bottom of page