Leier Nuusbrief Maart 2018 deel 1
top of page

Leier Nuusbrief Maart 2018 deel 1


Lei soos Jesus gelei het

Jesus het gelei en ons kan by Hom leer hoe om te lei. Jesus het volmaak gelei. Ons is nie volmaak nie en kan dus nie volmaakte leiers wees nie. Hoe meer ons Jesus navolg hoe nader aan “volmaak” kan ons lei.

Hier is sewe beginsels wat ons kan gebruik om ons leierskap te inspireer.

1. Jesus het Homself verneder en toegelaat dat God Hom verheerlik

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van GOD was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie, maar hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig en elke tong sou erken; ‘Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (Filippense 2:5 – 11).

2. Jesus volg die wil van sy Vader eerder as om ‘n posisie te soek

Ek het van die hemel afgekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het (Johannes 6:38).

Maar Jesus het vir hulle gesê: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het (Johannes 4:34)

3. Jesus definieer grootheid as om ‘n dienaar te wees

Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?” Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” (Markus 9:33 – 37).

4. Jesus het gewaag om ander te dien, want Hy het vertrou dat Hy God se Seun was.

Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan (Johannes 13:3)

5. Jesus verlaat sy plek aan die hooftafel om om te sien na die behoeftes van ander

Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n skottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het (Johannes 13:4- 5).

6. Jesus deel verantwoordelikheid en gesag met diegene wat Hy geroep het om te lei.

Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. Toe het hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak (Lukas 9:1 – 2).

7. Jesus bou ‘n span om ‘n visie wêreldwyd uit te dra

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: ‘Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:18 – 20).

Hoe kan leiers hulle spanlede dien?

Leierskap is nie ‘n blote filosofie nie, maar dit beteken iets word gedoen. As jy dien, tree jy op. Ken Blanchard noem drie optredes wat leiers moet gebruik om hulle mense meer doeltreffend te dien.

1. Teenwoordigheid

Wees teenwoordig as jy by jou mense is. Fokus op hulle - nie op jou volgende vergadering nie. Moenie dat afleidings jou aandag wegtrek van die persoon voor jou nie. Luister met die bedoeling om te leer; vra vrae vir duidelikheid; bied ondersteuning aan; gee rigting; sodat jou spanlede op hulle hoogste vlak kan presteer. Elke persoon het verskillende behoeftes Daarom moet ‘n leier konsentreer as hy ‘n spanlid is. Dit vereis oefening en toewyding van die leier.

2. Aanvaarding

Dienende leiers soek vir en bou op die sterkpunte van elke spanlid. Hulle besef niemand is volmaak nie en daarom identifiseer hulle ook swakpunte – gebiede waar hulle dalk spanlede mag help om te groei. Om iemand te help om nuwe vaardighede aan te leer is waarskynlik dié vorm van diens. Om spanlede te aanvaar net soos hulle is en aandag te gee aan hulle sterkpunte en swakpunte stel leiers in staat om te verseker dat spanlede – en die organisasie – presteer.

3. Kreatiwiteit

Leiers werk met spanne waarin mense met verskillende persoonlikhede en temperamente werk. Daarom lyk die taak van leierskap dikwels oorweldigend. Sommige sien dit as ‘n uitdaging wat versigtig hanteer moet word. Die dienaar leier probeer om kreatief te wees en om verskillende perspektiewe te verkry. Wonderlike dinge kan gebeur as verskillende stemme en menings gedeel word in ‘n omgewing van vertroue en samewerking. Die leier moet ‘n gemeenskap bou waar elkeen voel dat hy deel van die groter prentjie is.

Dink daaraan dat jy n dienaar leier is – maar maak seker dat jy reg optree om jou mense te dien. Doen dit en jy sal talent en potensiaal losmaak wat jou span en jou organisasie sal verander.

Leierskapspanning en die Bybel

Baie mense glo dat Christus die leier van die kerk is en ons is maar net sy dienaars. Tog, dwarsdeur die Bybel sien ons leierskap. Van sy betekenisvolste dienaars was ook betekenisvolle leiers. Ons leer belangrike leierskapbeginsels by hulle. Maar hierdie leiers het ook spanning ondervind.

1 Dawid

Moes jy al ooit teen ‘n reus geveg het? Het jy al ooit herstel van ‘n verwoeste reputasie? Weet jy hoe dit voel asof die hele wêreld teen jou is?

2. Josef

Het jy jou al ooit vir ‘n donker toekoms voorberei? Is jy al ooit beskuldig van iets wat jy nooit gedoen het nie? Moes jy al ooit stukkende verhoudings herstel?

3.Paulus

Het jy al probleme gehad dat die gevestigde leiers jou nie wou aanvaar nie? Laat stryd en teenstand jou werk aanvuur?

4 Gideon

Het jy al ooit gevoel jy is nie voorbereid vir die taak wat jy moet vervul nie? Hey jy in ‘n posisie beland sonder dat jy weet waarom dit gebeur het?

5. Moses

Is die gewig van jou verantwoordelikhede oorweldigend? Was jy al dislojaal behandel? Voltooi iemand anders die werk wat jy begin het?

6. Abraham

Het jy al ooit ‘n span in die onbekende ingelei? Trek familieomstandighede jou aandag van jou taak af? Moet jy ooit wag?

7. Noag

Voel dit soms of jy alleen staan? Lyk die taak wat voorlê vir jou onmoontlik? Het jy al ooit gevoel dat jy op ‘n eiland is n dat niemand jou verstaan nie?

Kyk deur die lysie. Baie hiervan is ook deel van ons spanning as leiers. Nou moet ons net vasstel wat daardie leiers gedoen het om hulle uitdagings te hanteer.


bottom of page